Geskryf deur Rosa Duvenhage
Ps. 23 Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.
Somtyds is daar sommer net ’n skaduwee in mens se hart. Daar is geen spesifieke rede nie, dis sommer net daar. Die lag kom nie so maklik soos gewoonlik nie en jou voete sleep. Dis soos ’n klippie in jou skoen, net as jy dink hy is weg dan trap jy hom weer raak.
Dis na ’n paar dae van skaduwee, dat ’n harts vriendin my vroegoggend kom oplaai. Ons vat ’n grondpaadjie binneland toe en na 20 minute se sinkplaat pad, haarnaalddraaie en op en afdraandes, stop ons in ’n kloof langs ’n laagwater bruggie.
Reuse bloekombome staan soos soldate in ’n ry al langs die water. Die reuk van vars grond en ’n tikkie bloekom hang in die lug. Die water is helder en verwelkom my kaalvoete. Ons stap enkeldiep, stroomop.
Ons kry die ideale plek om ons goed neer te sit, en met ons boude op ’n klip en ons voete in die kabbelende water, raak die bos rondom ons lewendig. ’n Paar skoenlappers doen ’n dansie net-net bo die water, ’n padda roep ’n paar keer hard en word weer stil. Iewers sing sonbesies. Twee pragtige visvangertjies kom sit op ’n klip en rus en ons word selfs bederf met ’n knysnaloerie.
Dit word ’n oggend vol gesels, koffie, lemon creams, kabbelende kristalhelder water, gebed en stilte.
Amper laat vir die kinders ry ons terug en ek besef die skaduwee in my hart is weg . . . Die water van die stroompie, goeie opbouende geselskap, God se asemrowende skepping en die liefde van ’n vriendin, het my kom vol maak. My beker loop oor . . .
Somtyds is ons net te leeg om te gee. Baie keer besef ons glad nie eers wat met ons aangaan nie. Ons is sommer net skuins en lus vir niks. Toe ons nog in die stad gewoon het, het ek elke middag as ek moeg en emosioneel leeg tuisgekom, die tuinslang gevat en die tuin natgemaak. Dit was my manier om net weer mens te word voor ek my gesin begin versorg.
Niemand het die luukse om elke dag ure af te staan om jouself te vind nie, maar jy weet wat jy nodig het, wat jou skaduwees verdryf en jou vol maak. Jy weet ook hoe langer jy met die skaduwees in jou hart rondloop hoe moeiliker word dit om van hulle ontslae te raak.
Maak vandag tyd om dit te doen wat jou beker volmaak. Drink ’n koffie saam met jou beste vriendin, sit op jou man se skoot, gaan stap in die parkie, eet roomys, swaai saam met jou kinders. Wat dit ook al is, God wil jou daar ontmoet, by daardie stroompie, waar daar vrede is.
Dis waar jou nuwe krag lê, en waar jy die insig sal kry om op die regte paaie te loop tot eer van Sy naam.
Here
Dankie, dat U die water is wat lewe gee. Dankie, dat U dit vir ons gun om net mens te wees en om U te vind in die eenvoudige dinge van die lewe. Dankie, dat U ons Herder is en dat ons in U niks kortkom nie.
Amen
No comments:
Post a Comment