Sunday, 10 February 2013

Geloof soos ’n kind

Heb 11:1"Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie".

My vriendin het ’n seuntjie, wat mal is oor diere. Hy het altyd ’n diertjie wat hy besig is om te versorg. So gebeur dit toe dat hy weer een dag ’n voëltjie met ’n seer vlerk op die gras gewaar. Hy het die voëltjie gevang en na ’n paar dae se liefdevolle versorging was die voëltjie gereed om losgelaat te word. Almal in die gesin is bymekaargeroep en het effens geïrriteerd buitetoe gestap om te kom kyk hoe die voëltjie losgelaat gaan word.

Die voëltjie was gereed, het sy vlerke ’n paar keer geskud en sonder moeite begin vlieg. Sy balans was egter bietjie aangetas en net toe hy mooi op spoed is, toe vlieg hy teen die huis se venster vas. Die voëltjie het morsdood op die gras neergeval.

Almal het nader gehardloop en die seuntjie het die dooie voëltjie versigtig opgetel. Die trane het reeds oor sy wange geloop, hy het plat op sy boude gaan sit, opgekyk na die hemel en met ’n ernstige stemmetjie tussen die trane deur gebid; "in die naam van Jesus laat my voëltjie lewe!" Die volgende oomblik het die voëltjie soos ’n pyl uit ’n boog die lug ingeskiet, ’n paar draai oor die huis se dak gevlieg en teen die horison verdwyn . . .

Nadat sy hierdie storie met my gedeel het, sit ons twee lank net vir mekaar en kyk. Die grootheid van dit wat gebeur het besig om in te sink. Vir weke al gesels ons oor geloof, oor wat geloof is en hoe om in geloof te lewe elke dag, en hier kom haar seuntjie en hy doen dit net! Hy doen dit sonder om ’n seminaar by te woon, ’n boek te lees, of weke lank daaroor te bespiegel.

Hoeveel van ons wat lief is vir die Here het geen idee waar ons geloof heen is nie. Ons het dit dalk op ’n stadium gehad, maar elke keer as die lewe ons ’n dwarsklap gee, dan is ons geloof by die venster uit. Hoe kan ons ons geloof versterk en as dit weg is waar kry ons dit weer.

Die volgende woorde uit die skrif, antwoord die vraag:
JOHANNES 8:30 - Terwyl Hy hierdie dinge gesê het, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom.
Geloof kom dus deur die woord van God.

Die woord van God is ons lig in die donker, dis die een vaste ding in hierdie wêreld wat nooit verander nie. Uit God se woord kry ons alles wat ons nodig het om ons toe te rus vir hierdie aardse lewe. ’n Lewe waar ons geloof nodig het om in oorvloed te leef en bruikbaar te wees in die Koninkryk van God.

As ek kyk na hierdie klein seuntjie en sy groot geloof is daar een ding wat soos ’n paal bo water staan en dis dat hy weet wie die Here is. Hy probeer nie in sy eie krag iets doen nie, hy word nie kwaad of raak moedeloos nie, hy roep net sy Pappa se naam.

Begeer jy so geloof?

Here

Vandag bid ek dat ons U beter sal leer ken. Die geskenk van geloof kan nie oopgemaak en waardeer word as ons nie die Een wat die geskenk gee ken nie. Leer ons deur U woord en deur die Heilige Gees wie U is en maak ons geloof vegters in U koninkryk, sodat ons reeds hier op aarde in U volheid kan lewe!

Amen

No comments:

Post a Comment