Tuesday, 19 February 2013

Die Heilige Gees
Geskryf deur Rosa Duvenhage

Ons woon in ’n klein kusdorpie, waar daar pragtige Afrikaanse gepraat word.  Ons stop by die garage en terwyl ons wag vir brandstof sit ons en luister na ’n kleurvolle gesprek tussen die petroljoggies:   
“Het jy gehoor”, lag die een, “Dorothy het haarself uit haar skaduwee geskrik die naweek.”
“Jittetjie, nee vertel, “sê die ander een in ’n harde rasperstem.
“ ’n Klong van die Baai het namiddag daar by die eiland se bek ’n Goliat van `n haai uitgetrek.  Klink my hy is  so lank soos ’n “show pony”  se pedigree!  Dorothy sê, sy sit nooit in der ewigheid weer, haar se pinkie, in die water nie, sy was vanoggend nog die ene jellie van die skrik.”
Die kinders hoor die geselsery en so word ’n gesprek oor haaie gebore.  Die een riller storie volg op die ander een en uiteindelik sit ek en luister na ’n gesprek oor die dood en die ewige lewe tussen ’n ses en tienjarige.
Boetie van tien, sê  met sekerheid in sy stem, dat mens eintlik glad nie doodgaan as jy vir Jesus ken nie!  Jou lyf bly net hier agter, maar voor jy nog enige iets kan voel is jy klaar by God en dis hoekom doodgaan glad nie erg is nie.
Sussie van ses, luister na die storie en antwoord: “ ek is baie bly mens gaan nie regtig dood nie, maar as Jesus my kom haal wil ek asseblief my binnegoed saamvat.”
Boetie trek ’n nare gesig, maar voor hy iets kan sê, gaan sy voort.
“Dis hier”, wys sy na haar magie,” waar ek vir Jesus voel.  Dis waar ek voel of ek goeie of stoute dinge doen.  Dis hier waar my liedjies vandaan kom wat ek vir Hom sing en waar mens se liefde bly.  Ek vat my binnegoed saam . . .”
Die opregtheid en waarheid van die twee se gesprek tref my kolskoot . . .
Ons is elkeen so uniek soos die vingerafdrukke op ons vingers, soos die kleur van die pigment in ons oë en die hoeveelheid hare op ons koppe.  Ons in net so uniek in die manier waarop die Heilige Gees met ons praat.
Die Heilige Gees word in die vorm van tonge van vuur op die dissipels uitgestort. Mens ervaar en hoor wonderlike getuienisse van die Heilige Gees wat op tasbare maniere ervaar word, byvoorbeeld wind in ’n vertrek, ’n spesifieke reuk,  skrif teen ’n muur ens.  Omdat God elkeen van ons self gemaak het en ons so goed ken, praat Hy gewoonlik met ons op ’n manier wat pas by wie jy is.  God is nie ’n aannemer van persoon nie  en daar bestaan geen resep van hoe die Heilige Gees behoort te werk nie .  Die Gees van God kom altyd vars en nuut!
Ek stap verlede week saam met ’n vriendin na haar motor en daar is ’n enkel skoenlappertjie wat voor ons kom fladder.  Sy vertel vir my dat die Here haar so gereeld bederf met ’n skoenlapper.  Dit is vir haar ’n teken van bemoediging en iets wat haar herinner aan die Heilige Gees se leiding en teenwoordigheid in haar lewe.
Begeer jy die tasbare teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou lewe?  Die wonderlike nuus is dat jy die volheid van die Heilige Gees elke oomblik by jou het.  Met die uitstorting van die Heilige Gees, het  die dissipels nie net ’n stukkie van die Heilige Gees ontvang nie, die skrif sê hulle is vervul met die Heilige Gees.  (Hand 2:4) Vervul beteken volgemaak, tjok-en-blok, plek vir niks anders nie!
As ’n klein dogtertjie van ses jaar oud,  presies weet wanneer die Heilige Gees met haar praat, hoeveel te meer moet ons, wat die Here al baie langer ken, nie weet nie.
Ek weet nie van jou nie, maar my hart brand om die Heilige Gees in my binnegoed te voel!  Kom ons word bewus van die geskenk van die Heilige Gees elke oomblik van elke dag, by ons, in ons en om ons.

Here
Dankie, dat ons nie doodgaan nie, maar dat ons vir ewig lewe deur Jesus se bloed.  Gee vir ons ’n leerbare gees, dat ons nie kosbare oomblik in hierdie lewe mis nie.  Dankie, vir die geskenk van die volheid van die Heilige Gees.  Vervul ons vandag opnuut met ’n vars porsie van U!

Amen


No comments:

Post a Comment