Blom waar jy geplant is
Geskryf deur Rosa Duvenhage
. . . but he who trusts in, relies on, and confidently leans on the Lord shall be compassed about with mercy and with loving kindness. (Ps 32:10 amp)
Ek staan in die kombuis, gereed om met aandete te begin, toe my seuntjie my opgewonde aan die hand kom vat, “kom kyk mamma, ek het ’n verassing vir jou”.
Bietjie benoud stap ek saam . .
Verassings het al gewissel van ’n sprinkaan in die vrieskas tot ’n bruin huis slang in ’n emmer. Hy trek my tot by die bedding langs die tuinhekkie. Daar tussen die vetplante, staan ’n effens verlepte tamatie plantjie. Die grond is stewig vasgetrap en die toonmerke maak ’n netjies patroontjie rondom. ’n Sand-rosie het gesneuwel in die proses en is netjies toegegooi met ’n hopie grond, om dit meer “onopsigtelik” te maak.
Ek probeer my bes om opgewonde te lyk, terwyl hy vertel hoe hy die tamatieplantjie op die komposhoop raakgesien het en dadelik gedink het, ek sal daarvan hou.
“Ek gee hierdie plantjie twee dae”, het ek stilletjies gedink, terwyl ek te bly was my verassing het nie meer bene as ek nie.
Teen my verwagting het die plantjie floreer. Gereeld in die middag na skool is die plantjie natgegooi en bewonder. Wat eens 'n verlepte tamatieplantjie was, het verander in `n welige plant vol geel blommetjie en vanmiddag staan ons opgewonde en kyk na die eerste paar groen vruggies aan die plant.
Het jy al ooit gevoel jy is totaal en al op die verkeerde plek op die verkeerde tyd? Jy bevind jouself in `n bedding waar jy uitstaan soos ’n seer oog. Jy het geen idee hoe jy daar beland het, of hoe jy weer daar gaan uitkom nie, maar vir nou is daar geen ander opsies nie. . .
Dis in omstandighede soos hierdie dat ’n mens jouself baie vinnig op ’n nuwe vlak leer ken. Daar is `n Engelse aanhaling wat se:
“You don’t know how strong you are, until being strong is the only choice you have”.
Toe Josef se omstandighede in ’n oogwink verander het vanaf geliefde seun tot ’n slaaf op ’n kameel se rug, het hy geen idee gehad wat God vir hom beplan nie. Hy sou nie kon droom dat koningskap en heerskappy deel was van die plan nie.
Ons lees in Gen 39:3 - Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Later lees ons dat Josef in die tronk gegooi is, en weer lees ons - Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind sodat dié tronkbewaarder hom goedgesind was (Gen 39:21)
Self in die omstandighede waarin jy jou nou bevind, of dit goed of sleg is, is die Here by jou. Hy wil jou net soos vir Josef toevou in Sy troue liefde en jou in guns laat loop. Met die Here aan ons kant, kan ons nie anders as om te floreer in ons omstandighede nie, want net soos vir Josef beplan die Here vir jou Koningskap en heerskappy.
Dis net God wat ons einde ken voor ons begin. Net Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhê (Rom 8:21)
Hou vandag goeie moed! God is besig om die omstandighede in jou bedding te verander. Een van die dae as jy vol bloeisels en vruggies terugkyk, sal jy besef dat die bedding waar jy jouself bevind nie belangrik is as die die feit dat God die grond waarin jy staan met guns en vrugbaar seën nie!
Here
Ek bid dat u vandag ons oë sal oopmaak, sodat ons U guns en goeie planne vir ons lewe sal herken. Help ons om te floreer ten spyte van ons omstandighede, om te blom waar ons geplant is.
Amen
Toe ek hierdie lees, toe bring dit opnuut 'n glimlag om my mondhoeke :D.
ReplyDelete