Seilboot of vragskip?
Vanoggend voel ek soos C. LOUIS LEIPOLDT moes voel toe hy die gedig Oktobermaand geskryf het. Hier waar ons woon teen die kus is die mooiste maand Februarie. Ons het lang sonnige dae, die wind is kalm, die see deurskynend en spieëlglad. Laatmiddag hang die reuk van frangipani bloeisels in die lug en sak die son in ’n mengelmoes van oranje en pienke tot daar net ’n rooi gloed teen die horison smeul.
Dis op so ’n perfekte dag in Februarie dat ek met my tone in die satyn-sagte sand staan. Die hemel en die see ontmoet mekaar in skakerings van blou. ’n Vragskip kom op die horison aangeskommel. Hy beur stadig vorentoe en kreun onder die vrag in sy buik. ’n Seilbootjie met helderkleurige seile, kom vanuit die teenoorgesteld rigting. Die bootjie beweeg rats deur die water en sonder moeite word die seile omgeswaai. Binne in oogwink verander die bootjie van koers. Moeiteloos, lig en vry . . .
Maak nie saak wie jy is, oud, jonk, vet, maer, ryk of arm, elkeen van ons het ’n verlede. ’n Verlede waaraan ons niks kan verander nie. Daar is net twee tipes mense op hierdie planeet, die wat vrede gesluit het met hulle verlede en die wat nog in reaksie is.
Ons lees in Joh. 10:10 dat Jesus juis gesterf vir sondaars soos ek en jy, sodat ons nie net vry kan wees nie, maar dat ons ’n lewe van oorvloed kan hê . (Joh. 10:10)
Die hartseer is dat die foute van die verlede ons oorvloed steel. Dit bind onsigbare kettings om ons voet wat ons vasvang in ’n eindelose doolhof van skuldgevoelens en minderwaardigheid.
Ek lees van ’n gemeente wat ’n groot bord voor hulle kerkgebou opgerig het. Op die bord staan die volgende woorde: “Slegs sondaars is welkom”. Die woorde raak my baie diep, want baie keer is die boodskap wat christene uitstuur juis dat jy perfek moet wees om gered te word.
As ons na die vroue in die geslagsregister van Jesus kyk, staan mens verbaas oor wie daarin verskyn. Daar word vyf vroue genoem, waarvan drie nie juis ’n goeie reputasie gehad het nie. Ragab was ’n prostituut, Tamar was ’n weduwee wat haar vermom het as ’n prostituut en haar skoonpa verlei het om ’n plek in die familie te kry en Batseba het ’n buite-egtelike verhouding gehad wat daarop uitgeloop het dat haar man vermoor is. God weet alles en tog kies Hy ’n bloedlyn vol vuil bare vrouens waaruit die Messias gebore word.
God het jou ook gekies, net soos jy is, met jou verlede en al. Niks wat jy gedoen het, is te groot dat dit nie deur die bloed van Jesus bedek is nie.
In Christus het jy geen verlede nie!
Die vraag is of jy bereid is om in die woord van God te glo, jou vergifnis te aanvaar en in oorwinning te begin loop.
As jou antwoord vandag, ja is, dan mag jy nie langer jouself straf vir jou verlede nie. As jy iemand moet vergewe, doen dit vandag! As jy vergifnis moet kry, gaan vra dit, as jy hulp nodig het, gaan kry dit, maar maak vandag ’n keuse. Kies om vir oulaas jou bagasie by God se voete neer te sit, om om te draai en weg te stap as ’n vry mens, vlekkeloos voor God!.
Rom 8:1 sê die volgende: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.!! Is dit nie wonderlik nie?
Vandag is die lug blou en die water is kalm. ’n Seemeeu draai laag oor die baai. Die Here se plan vir jou lewe is om jou vragskip-status te verruil vir seilboot-status, sodat jy rats, moeiteloos en vry op die lewenswater kan vaar.
Sy plan vir jou is, om jou los te maak van die dinge wat agter is en jou uit te strek na die dinge wat voorlê.
Sy plan is om jou te bederf met die reuk van frangipani bloeisels op ’n lieflike somersdag en skakerings van pienk en oranje as die son sak en bo als ’n spieëlgladde see wat Sy vergifnis en onvoorwaardelike liefde vir jou weerkaats!
Here
Ek bid vandag vir die balsem van genesing en herstel waar dit nodig is. Maak my ’n veerligte seilboot met uitspattige bont seile!
Amen
No comments:
Post a Comment