Die bekommernis boompie
Geskryf deur Rosa Duvenhage
JESAJA 41:10
Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.
Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.
Daar was eendag ’n boer wat besig was om sy ou plaashuis op te knap. Hy het ’n loodgieter gehuur om hom te help. Die arme loodgieter het ’n vreeslike eerste dag gehad. Hy was ’n uur laat as gevolg van ’n pap wiel, sy boor het gebreek en teen huis toe gaan tyd het sy voertuig geweier om te vat.
Die boer het aangebied om die loodgieter huis toe te vat. Hulle het voor die loodgieter se huis gestop en hy het die boer ingenooi om sy gesin te ontmoet. Op pad na die voordeur, het die loodgieter vir ’n oomblik vasgesteek by ’n boom in sy tuin, aan die blare geraak en verder gestap, Toe hy die voordeur oopmaak het hy 'n absolute transformasie ondergaan. Sy gesig het skielik begin gloei van blydskap en met 'n breë glimlag het hy sy vrou en twee kinders omhels. Nadat die boer hulle ontmoet het, het die loodgieter saam met hom terug gestap na sy motor.
Die boer kon nie sy nuuskierigheid bedwing nadat hy die gesin se vreugde aanskou het nie. Hy vra toe vir die loodgieter wat het gebeur vandat hy uit die motor geklim het tot hy die voordeur oopgemaak het? Die man antwoord met die volgende woorde:
“Sien jy hierdie boom in my tuin, dis my bekommernis boom. As ek saans by die boom verbystap, hang ek al my werksprobleme en bekommernisse aan ’n tak. Dan vra ek vir God om na die probleme om te sien. As ek dan by die huis instap vergeet ek van die probleme en kan ek my gesin geniet en al my aandag aan hulle gee. In die oggend haal ek weer my probleme van die tak af en sorteer dit dan uit so goed ek kan. Jy sal dit nie glo nie, maar my sakkie probleme is elke oggend heelwat ligter as die aand tevore!
Ons lees op verskeie plekke in die Bybel oor bekommernis en nog steed trap ons elke dag in dieselfde gat. Ons voer die bekommernis gogga so gereëld dat dit ons opvreet, vergiftig en uitspoeg sonder enige seremonie! Daar word gepraat van “die siekte van ons tyd”.
Die enige effektiewe medisyne vir die siekte van ons tyd, vind ons in die Woord van God.
Matt. 6:25 - 27
“ . . . Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? . . . Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?
Die realiteit is, ons lewe in ’n wêreld waar ons elke dag met probleme worstel. Gewoonlik is die probleem so intimiderend dat ons magteloos en verlam voel.
Volgens God se Woord is jy nie magteloos nie, jy het die vryheid om te kies! Gaan jy bekommernis kies of gaan jy die swaard van die woord uithaal, daaraan vasklou met als wat jy het, en op so manier die gogga se kop afkap!
Waaroor is jy vandag bekommerd?
Is dit jou kind, jou finansies, jou gesondheid, jou huwelik of jou werk?
God, wat alles gemaak het, wat oor jou gedink het voor die grondlegging van die wereld, spreek nou die volgende woorde oor jou probleem:
My liewe kind, Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. (Jes. 41:10)
Here
Wat ’n voorreg om U kind te wees. Dankie, dat ons nou ons bekommernisse vir U kan gee. Dankie dat U 100% genesing bring vir die wat siek is. Dankie, vir finansiële restourasie waar dit nodig is , dankie vir werksprobleme wat U besig is om uit te sorteer, dankie vir herstel en genesing in huwelike, dankie dat U ons kinders bewaar en dankie dat U is, wie U is, - Die God van liefde en lewe en oorvloed.
Amen!
No comments:
Post a Comment