Geskryf deur Rosa Duvenhage
Eksodus 33:11 - Die Here het met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend praat.
Ek stop voor die ouetehuis se versorgingseenheid. `n Jakaranda boom staan in volle blom en die geur van die bloeisels laat my terugdink aan my studente dae in Pretoria. Wonderlike stukkies onthou maak my tree ligter soos ek opstap met die trappies. Hier woon my ouma se suster, sy is 100 jaar en 3 maande oud. Dis nie altyd `n lekker besoek nie. Ten spyte daarvan dat die tehuis baie mooi kyk na die bejaardes is baie van hulle eensaam en siek.
Ek groet die tannie by die ontvangs, sy is besig om `n paar viooltjies nat te gooi, sy ken my al, en beduie ek kan maar ingaan. Ek stap verby die binnehof. Op `n stoel in die oggendsonnetjie sit `n krom figuurtjie, oor haar bene is `n bont blokkies kombers. Haar grys haartjies is yl en happerig gesny. Ek steek vas in die deur en luister hoe sy met `n bewerige stemmetjie sing-" i am a friend of God, i am a friend of God, i am a friend of God, He calls me friend" Een van die versorgers kom staan langs my en sê, sy is nuut, sy sing heeltyd dieselfde woorde oor en oor, dis seker maar die Alzheimer’s . . .
Ek stap nader en hurk vir ’n oomblik langs haar. Haar benerige handjie is koud. Die lig val op haar gekreukelde gesiggie en dans in haar helder oë. Sonder om te reageer sing sy verder," I am a friend of God, He calls met friend . . . "
Eksodus 33:11 - Die Here het met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend praat.
Ek kon nie anders as om aan Moses te dink nie. Kan jy jouself indink hoe dit moes voel om Moses te wees. Die arme man het sy hande vol gehad met `n volk wat murmureer oor alles. Hy was die tussenganger, die spreekbuis en die slaansak. Hy was verantwoordelik vir duisende mense in `n woestyn, sonder water, kos, geriewe of `n padkaart . . .
Maar in plaas daarvan dat Moses die hase pad kies en omslaan van spanning, spandeer hy tyd saam met God, sy vriend. Moses gaan vir lang tye op na die
berg Sinai, dis hier waar God vir hom die voorskrifte gee waarvolgens die volk moet lewe, en waar `n onbreekbare vriendskap gevorm word. Moses kom nie net wyser en beter toegerus vir sy taak van die berg af nie, maar sy voorkoms blink van die Heerlikheid van God. Die volk kan sien dat Moses in God se teenwoordigheid was.
Hoe gaan dit met jou? Het jy `n vriendskap met God? Is jy eensaam? Voel jy bekommernis en spanning kry jou onder? Voel jy nie opgewasse vir dit wat van jou verwag word nie?
God wil nes soos met Moses, jou vriend wees. Hy is daar om jou toe te rus met wysheid, om jou hand vas te hou as dinge te veel raak. Om jou te troos as jy hartseer is en saam met jou te droom oor die toekoms. God wil jou toevou in Sy heerlikheid en jou die LIG gee van Joh. 8:12 - Ek is die LIG van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die LIG van die lewe hê"
Ek wens ek het die hele storie geken van die tannie in die ouetehuis. Iets vertel my dat God haar vriend is. Daar waar vlees opgee en siel nie meer fuksioneer nie, jubel haar gees oor `n vriendskap met die Koning van die heelal, en ek wonder of die glans op haar gekreukelde gesiggie dalk meer is as net die oggendson . . .
Here
Ek begeer met alles in my om U vriend genoem te word. Leer my hoe!
Amen
No comments:
Post a Comment