Die Handskud
Geskryf deur Rosa Duvenhage
Ek lees die storie van ’n man wat tydens die tweede wêreldoorlog gevange geneem is. Hy vertel hoe hy vir drie jaar lank alleen in ’n sel opgesluit was. Hy het geen kontak met ander gevangenis gehad nie, sy daaglikse roetine het bestaan uit die uitvee van sy sel, die opsê van elke liewe Bybelversie wat hy kon onthou en ’n bord kos wat een keer per dag deur die gleufie in die deur gestoot is.
Hy het moed begin verloor, hy kon die eensaamheid nie meer verdra nie . Een oggend nadat hy sy sel uitgevee en die stof deur die gleufie buitentoe gestoot het, toe gebeur ’n vreemde ding. Hy sien hoe die stof wat hy uitgestoot het, weer teruggestoot word deur die gleufie. Hy stap nuuskierig nader en stoot weer die stof buitentoe, maar hierdie keer is hy gereed en toe hy die stof sien terugkom steek hy sy hand deur die gleufie en gryp die besem vas. ’n Benoude stem aan die ander kant fluister die woord “khong” wat beteken “nee” in Viëtnamees. Hy besef dadelik dat die persoon aan die ander kant van die deur benoud is en seker ook maar net ’n gevangene is soos hy, en hy los dadelik die besem.
Terwyl hy onseker oor wat volgende gaan gebeur, nog op sy knieë staan voor die opening, toe steek die Viëtnamees sy hand deur die gleufie, slaan haastig twee keer op die sel vloer en hou sy hand uit in die vorm van ’n groet. Sy honger vir menslike aanraking, het in ’n oomblik alle vrees oorskry en vir die eerste keer in drie jaar raak hy aan ’n ander mens.
Hy vertel hoe hy en die vreemdeling aan die ander kant van die deur, vir ’n paar sekondes krampagtig met albei hande aan mekaar vasgehou het. Na daardie dag het dit nooit weer gebeur nie, maar die aanraking van die vreemdeling, het hom hoop gegee en hom aan die lewe gehou tot hy vrygelaat is.
Die eerste gebod in die Bybel leer ons om die Here lief te hê met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand en die tweede gebod wat aan die eerste een gelykstaan is om mense lief the hê soos jouself (Markus 12:30)
As ons kyk na hoe Jesus mense liefgehad het terwyl Hy op aarde was, het dit telkens met aanraking gepaard gegaan. Dink aan die blinde man wat kon sien, nadat Jesus modder aan sy oë gesmeer het of aan Jesus wat Sy hand uitgesteek het om vir Petrus te red toe hy op die water geloop het (Matt. 14:30) Ons lees selfs dat mense aan Jesus gevat het en deur geloof genees is, soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.
Ons is geskep om vir God lief te wees en om mense te help.
As jy vir Jesus aangeneem het, is Sy volheid in jou, dit beteken jy maak ’n verskil in ’n wêreld deur elke glimlag, elke woord van lewe, elke handskud. As jy in ’n vertrek instap, stap Jesus saam met jou. As jy iemand toevou in ’n omhelsing, dan is dit Jesus se arms rondom daardie persoon.
Bill Johnson vertel dat die eienaar van ’n winkel waar hy elke dag brood en melk koop eendag na hom kom en vra, wat het jy wat ek nie het nie, want elke keer as jy in my winkel instap verander die atmosfeer.
Kom ons word “atmosphere changers” in ’n wêreld wat krampagtig vasklou aan dooie dinge.
Here
Maak ons lewensredders in hierdie wêreld wat doodgaan van geestelike eensaamheid en honger. Laat ons oorloop van liefde, want dis wie U is!
No comments:
Post a Comment