Thursday, 28 February 2013

Die droom . . .


Die droom
Geskryf deur Rosa Duvenhage
Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. (Joh. 15:5)
Daar was eendag ’n man wat baie lief was vir die Here.  Hy het ’n vrou en twee kinders gehad en hulle het ’n eenvoudige bestaan gemaak uit die stukkie grond wat hulle bewerk het.  In die oggend het sy vrou die kinders leer lees en skryf en hy het die landerye bewerk.  Smiddags het hy tyd deurgebring saam met sy gesin. 
Soos hy besig was om te werk het hy baie tyd met die Here spandeer.  Die Here het vir hom ’n belofte gegee dat hy ’n groot bediening sal hê.  Hy  het begin preek en van oraloor het die mense gekom om na hom te luister.  Sy bediening was kragtig en het groter en groter geword.
Een nag het die Here met hom gepraat in ’n droom . . .
Die Here het saam met  hom  op sy stukkie grond gestap.  Dit was erg verwaarloos.  Die onkruid het oral gegroei en die drade wat stukkend.  Sy huis se verf het afgedop en die dak was vol gate.   Die Here het vir hom gevra hoekom sy plek so verwaarloos is. Hy het geantwoord, Here ek is te besig met U dinge om aan my grond aandag te gee.  Die Here het langs hom gestop, Sy hande  op sy skouers gesit en gesê, “My liewe kind, jou prioriteite is verkeerd.”
Hy het gevra, “Here hoe is dit moontlik? Ek is dan besig met U dinge!  Hoe moet my lewe dan lyk?”
Die Here het hom geantwoord:  “Jou verhouding met My moet jou eerste prioriteite wees, nie jou bediening nie. 
In die tweede plek kom jou vrou. Ek het haar vir jou met My hand uitgekies en ek sien julle as ’n eenheid.  Sy is jou helper en sy maak jou rug toe.  Sonder haar is jy ’n halwe man. 
Derde kom jou kinders, hulle is die vrug van jou verbond met jou vrou.  Hulle is net vir ’n kort tydjie vir  jou geleen en jy moet in daardie tyd soveel moontlik saad in hulle lewens inploeg en hulle voorberei vir die lewe wat voorlê.
Vierde kom jou bediening, as alles in jou huis in orde is, sal jou bediening floreer.”
Die man kon nie verder slaap nie.  Die volgende oggend vroeg het hy sy vrou wakker gemaak en haar vertel van sy droom.  Hy het ’n stuk kryt gevat en ’n kring rondom hulle twee getrek.  Die man het gesê, Elke dag as ons saam bid, binne hierdie kring , sal dit my  herinner daaraan om my prioriteite reg te hou.
Ons is somtyds so besig met die dinge van God dat ons die God van die dinge mis, net so is ons soms so besig om mense te bearbei en te bedien dat die pap op die grond val in ons eie huise.
Gesinne is vir God belangrik.  Binne ’n gesonde gesin is daar tyd vir mekaar, liefde, omgee, lag, versorging en vertroue. ’n Gesonde gesin is die basis van ’n gesonde gemeenskap wat op die ou einde funksioneer as  ’n gesonde kerk/liggaam van Christus.
Jesus leer ons in Joh. 15:5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.
Ons het vir God as nommer een in ons lewe nodig.  ’n loot kan nie groei sonder ’n wingerdstok nie.
Hoe lyk jou prioriteite?  Kom jou gemeente dalk voor jou vrou?  Is jou vriende belangriker as jou kinders? Spandeer jy meer tyd aan jou werk as aan jou man?   
Vandag is jou kans om oor te begin.  Kry jou prioriteite in orde sodat jy in oorwinning kan loop en sodat die bediening wat God vir jou beplan, of reeds aan jou toevertrou het, gesonde en oorvloedige vrugte kan dra!

Here                                                
Ek vat vandag ’n kryt en trek ’n kring om myself.  Begin by my, Here.  Ek is bereid om te luister, en te verander. Leer my en wys my hoe om my prioriteite uit te sorteer en dit in lyn te hou met U wil.
Amen


Tuesday, 26 February 2013

Waters waar daar vrede is

Waters waar daar vrede is

Geskryf deur Rosa Duvenhage


Ps. 23 Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.


Somtyds is daar sommer net ’n skaduwee in mens se hart. Daar is geen spesifieke rede nie, dis sommer net daar.  Die lag kom nie so maklik soos gewoonlik nie en jou voete sleep.  Dis soos ’n klippie in jou skoen, net as jy dink hy is weg dan trap jy hom weer raak.

Dis na ’n paar dae van skaduwee, dat ’n harts vriendin my vroegoggend kom oplaai.  Ons vat ’n grondpaadjie binneland toe en na 20 minute se sinkplaat pad, haarnaalddraaie en op en afdraandes, stop ons in ’n kloof langs ’n laagwater bruggie.
Reuse bloekombome staan soos soldate in ’n ry al langs die water. Die reuk van vars grond en ’n tikkie bloekom hang in die lug.  Die water is helder en verwelkom my kaalvoete.  Ons stap enkeldiep, stroomop.

Ons kry die ideale plek om ons goed neer te sit, en met ons boude op ’n klip en ons voete in die kabbelende water, raak die bos rondom ons lewendig.  ’n Paar skoenlappers doen ’n dansie net-net bo die water, ’n padda roep ’n paar keer hard en word weer stil. Iewers sing sonbesies. Twee pragtige visvangertjies kom sit op ’n klip en rus en ons word selfs bederf met ’n knysnaloerie.

Dit word ’n oggend vol gesels, koffie, lemon creams, kabbelende kristalhelder water, gebed en stilte. 

Amper laat vir die kinders ry ons terug en ek besef die skaduwee in my hart is weg . . . Die water van die stroompie, goeie opbouende geselskap, God se asemrowende skepping en die liefde van ’n vriendin, het my kom vol maak.  My beker loop oor . . .
Somtyds is ons net te leeg om te gee.  Baie keer besef ons glad nie eers wat met ons aangaan nie.  Ons is sommer net skuins en lus vir niks.  Toe ons nog in die stad gewoon het, het ek elke middag as ek moeg en emosioneel leeg tuisgekom, die tuinslang gevat en die  tuin natgemaak.  Dit was my manier om net weer mens te word voor ek my gesin begin versorg.

Niemand het die luukse om elke dag ure af te staan om jouself te vind nie, maar jy weet wat jy nodig het, wat jou skaduwees verdryf en jou vol maak.  Jy weet ook hoe langer jy met die skaduwees in jou hart rondloop hoe moeiliker word dit om van hulle ontslae te raak.

Maak vandag tyd om dit te doen wat jou beker volmaak.  Drink ’n koffie saam met jou beste vriendin, sit op jou man se skoot,  gaan stap in die parkie, eet roomys, swaai saam met jou kinders.  Wat dit ook al is, God wil jou daar ontmoet, by daardie stroompie, waar daar vrede is.
Dis waar jou nuwe krag lê, en waar jy die insig sal kry om op die regte paaie te loop tot eer van Sy naam.

Here

Dankie, dat U die water is wat lewe gee.  Dankie, dat U dit vir ons gun om net mens te wees en om U te vind in die eenvoudige dinge van die lewe. Dankie, dat U ons Herder is en dat ons in U niks kortkom nie.

Amen

Sunday, 24 February 2013

Blom waar jy geplant is

Blom waar jy geplant is


Geskryf deur Rosa Duvenhage


. . . but he who trusts in, relies on, and confidently leans on the Lord shall be compassed about with mercy and with loving kindness. (Ps 32:10 amp)
 
Ek staan in die kombuis, gereed om met aandete te begin, toe my seuntjie my opgewonde aan die hand kom vat, “kom kyk mamma, ek het ’n verassing vir jou”.

Bietjie benoud stap ek saam . .
 
Verassings het al gewissel van ’n sprinkaan in die vrieskas tot ’n bruin huis slang in ’n emmer. Hy trek my tot by die bedding langs die tuinhekkie. Daar tussen die vetplante, staan ’n effens verlepte tamatie plantjie. Die grond is stewig vasgetrap en die toonmerke maak ’n netjies patroontjie rondom. ’n Sand-rosie het gesneuwel in die proses en is netjies toegegooi met ’n hopie grond, om dit meer “onopsigtelik” te maak.
 
Ek probeer my bes om opgewonde te lyk, terwyl hy vertel hoe hy die tamatieplantjie op die komposhoop raakgesien het en dadelik gedink het, ek sal daarvan hou.
 
“Ek gee hierdie plantjie twee dae”, het ek stilletjies gedink, terwyl ek te bly was my verassing het nie meer bene as ek nie.
 
Teen my verwagting het die plantjie floreer.  Gereeld in die middag na skool is die plantjie natgegooi en bewonder. Wat eens 'n verlepte tamatieplantjie was, het verander in `n welige plant vol geel blommetjie en vanmiddag staan ons opgewonde en kyk na die eerste paar groen vruggies aan die plant.
 
Het jy al ooit gevoel jy is totaal en al op die verkeerde plek op die verkeerde tyd? Jy bevind jouself in `n bedding waar jy uitstaan soos ’n  seer oog. Jy het geen idee hoe jy daar beland het, of hoe jy weer daar gaan uitkom nie, maar  vir nou is daar geen ander opsies nie. . .  

Dis in omstandighede soos hierdie dat ’n  mens jouself baie vinnig op ’n nuwe vlak leer ken. Daar is `n Engelse aanhaling wat se:

 “You don’t know how strong you are, until being strong is the only choice you have”.
 
Toe Josef se omstandighede in ’n oogwink verander het vanaf geliefde seun tot ’n  slaaf op ’n  kameel se rug, het hy geen idee gehad wat God vir hom beplan nie. Hy sou nie kon droom dat koningskap en heerskappy deel was van die plan nie.
 
Ons lees in Gen 39:3 - Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Later lees ons dat Josef in die tronk gegooi is, en weer lees ons - Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind sodat dié tronkbewaarder hom goedgesind was (Gen 39:21)
 
Self in die omstandighede waarin jy jou nou bevind, of dit goed of sleg is, is die Here by jou. Hy wil jou net soos vir Josef toevou in Sy troue liefde en jou in guns laat loop. Met die Here aan ons kant, kan ons nie anders as om te floreer in ons omstandighede nie, want net soos vir Josef beplan die  Here vir jou Koningskap en heerskappy.
 
Dis net God wat ons einde ken voor ons begin. Net Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhê (Rom 8:21)

Hou vandag goeie moed!  God is besig om die omstandighede in jou bedding te verander.  Een van die dae as jy vol bloeisels en vruggies terugkyk, sal jy besef dat die bedding waar jy jouself bevind nie belangrik is as die die feit dat God die grond waarin jy staan met guns en vrugbaar seën nie!
 
Here
 
Ek bid dat u vandag ons oë  sal oopmaak, sodat ons U guns en goeie planne vir ons lewe sal herken. Help ons om te floreer ten spyte van ons omstandighede, om te blom waar ons geplant is.

Amen
 

Thursday, 21 February 2013

Seilboot of vragskip?

Seilboot of vragskip?
 
Joh. 10:10 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed!

Vanoggend voel ek soos C. LOUIS LEIPOLDT moes voel toe hy die gedig Oktobermaand geskryf het. Hier waar ons woon teen die kus is die mooiste maand  Februarie.  Ons het lang sonnige dae, die wind is kalm, die see deurskynend en spieëlglad. Laatmiddag hang die reuk van frangipani bloeisels in die lug en sak die son in ’n mengelmoes van oranje en pienke tot daar net ’n  rooi gloed teen die horison smeul.
Dis op so ’n perfekte dag in Februarie dat ek met my tone in die satyn-sagte sand staan.  Die hemel en die see ontmoet mekaar in skakerings van blou. ’n Vragskip kom op die horison aangeskommel.  Hy beur stadig vorentoe en kreun onder die vrag in sy buik. ’n Seilbootjie met helderkleurige seile, kom vanuit die teenoorgesteld rigting.  Die bootjie beweeg rats deur die water en sonder moeite word die seile omgeswaai. Binne in oogwink verander die bootjie van koers. Moeiteloos, lig en vry . . .
Maak nie saak wie jy is, oud, jonk,  vet, maer, ryk of arm, elkeen van ons het ’n verlede. ’n Verlede waaraan ons niks kan verander nie. Daar is net twee tipes mense op hierdie planeet, die wat vrede gesluit het met hulle verlede en die wat nog in reaksie is.
Ons lees in Joh. 10:10 dat Jesus juis gesterf vir sondaars soos ek en jy, sodat ons nie net vry kan wees nie, maar dat ons ’n lewe van oorvloed kan hê . (Joh. 10:10)
Die hartseer is dat die foute van die verlede ons oorvloed steel.  Dit bind onsigbare kettings om ons voet wat  ons vasvang in ’n eindelose doolhof van skuldgevoelens en minderwaardigheid.
Ek lees van ’n gemeente wat ’n groot bord voor hulle kerkgebou opgerig het. Op die bord staan die volgende woorde: “Slegs sondaars is welkom”.  Die woorde raak my baie diep, want baie keer is die boodskap wat christene uitstuur juis dat jy perfek moet wees om gered te word.
As ons na die vroue in die geslagsregister van Jesus kyk, staan mens verbaas oor wie daarin verskyn. Daar word vyf vroue genoem, waarvan drie nie juis ’n goeie reputasie gehad het nie. Ragab was ’n prostituut, Tamar was ’n weduwee wat haar vermom het as ’n prostituut en haar skoonpa verlei het om ’n plek in die familie te kry en Batseba het ’n buite-egtelike verhouding gehad wat daarop uitgeloop het dat haar man vermoor is.  God weet  alles en tog kies Hy ’n bloedlyn vol vuil bare vrouens waaruit die Messias gebore word.
God het jou ook gekies, net soos jy is, met jou verlede en al.  Niks wat jy gedoen het, is te groot dat dit nie deur die bloed van Jesus bedek is nie.
In Christus het jy geen verlede nie!
Die vraag is of jy bereid is om in die woord van God te glo, jou vergifnis te aanvaar en in oorwinning te begin loop.
As jou antwoord vandag, ja is, dan mag jy nie langer jouself straf vir jou verlede nie. As jy iemand moet vergewe, doen dit vandag! As jy vergifnis moet kry, gaan vra dit, as jy hulp nodig het, gaan kry dit, maar maak vandag ’n keuse. Kies om vir oulaas jou bagasie by God se voete neer te sit, om om te draai en  weg te stap as ’n vry mens, vlekkeloos voor God!.
Rom 8:1 sê die volgende: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.!!  Is dit nie wonderlik nie?
Vandag is die lug blou en die water is kalm. ’n Seemeeu draai laag oor die baai. Die Here se plan vir jou lewe is om jou vragskip-status te verruil vir seilboot-status, sodat jy rats, moeiteloos en vry op die lewenswater kan vaar.
Sy plan vir jou is, om jou los te maak van die dinge wat agter is en jou uit te strek na die dinge wat voorlê.
Sy plan is om jou te bederf met die reuk van frangipani bloeisels op ’n lieflike somersdag en skakerings van pienk en oranje as die son sak en bo als ’n spieëlgladde see wat Sy vergifnis en onvoorwaardelike liefde vir jou weerkaats!
 
Here
Ek bid vandag vir die balsem van genesing en herstel waar dit nodig is.  Maak my ’n veerligte seilboot met uitspattige bont seile!
Amen

Tuesday, 19 February 2013

Die Heilige Gees
Geskryf deur Rosa Duvenhage

Ons woon in ’n klein kusdorpie, waar daar pragtige Afrikaanse gepraat word.  Ons stop by die garage en terwyl ons wag vir brandstof sit ons en luister na ’n kleurvolle gesprek tussen die petroljoggies:   
“Het jy gehoor”, lag die een, “Dorothy het haarself uit haar skaduwee geskrik die naweek.”
“Jittetjie, nee vertel, “sê die ander een in ’n harde rasperstem.
“ ’n Klong van die Baai het namiddag daar by die eiland se bek ’n Goliat van `n haai uitgetrek.  Klink my hy is  so lank soos ’n “show pony”  se pedigree!  Dorothy sê, sy sit nooit in der ewigheid weer, haar se pinkie, in die water nie, sy was vanoggend nog die ene jellie van die skrik.”
Die kinders hoor die geselsery en so word ’n gesprek oor haaie gebore.  Die een riller storie volg op die ander een en uiteindelik sit ek en luister na ’n gesprek oor die dood en die ewige lewe tussen ’n ses en tienjarige.
Boetie van tien, sê  met sekerheid in sy stem, dat mens eintlik glad nie doodgaan as jy vir Jesus ken nie!  Jou lyf bly net hier agter, maar voor jy nog enige iets kan voel is jy klaar by God en dis hoekom doodgaan glad nie erg is nie.
Sussie van ses, luister na die storie en antwoord: “ ek is baie bly mens gaan nie regtig dood nie, maar as Jesus my kom haal wil ek asseblief my binnegoed saamvat.”
Boetie trek ’n nare gesig, maar voor hy iets kan sê, gaan sy voort.
“Dis hier”, wys sy na haar magie,” waar ek vir Jesus voel.  Dis waar ek voel of ek goeie of stoute dinge doen.  Dis hier waar my liedjies vandaan kom wat ek vir Hom sing en waar mens se liefde bly.  Ek vat my binnegoed saam . . .”
Die opregtheid en waarheid van die twee se gesprek tref my kolskoot . . .
Ons is elkeen so uniek soos die vingerafdrukke op ons vingers, soos die kleur van die pigment in ons oë en die hoeveelheid hare op ons koppe.  Ons in net so uniek in die manier waarop die Heilige Gees met ons praat.
Die Heilige Gees word in die vorm van tonge van vuur op die dissipels uitgestort. Mens ervaar en hoor wonderlike getuienisse van die Heilige Gees wat op tasbare maniere ervaar word, byvoorbeeld wind in ’n vertrek, ’n spesifieke reuk,  skrif teen ’n muur ens.  Omdat God elkeen van ons self gemaak het en ons so goed ken, praat Hy gewoonlik met ons op ’n manier wat pas by wie jy is.  God is nie ’n aannemer van persoon nie  en daar bestaan geen resep van hoe die Heilige Gees behoort te werk nie .  Die Gees van God kom altyd vars en nuut!
Ek stap verlede week saam met ’n vriendin na haar motor en daar is ’n enkel skoenlappertjie wat voor ons kom fladder.  Sy vertel vir my dat die Here haar so gereeld bederf met ’n skoenlapper.  Dit is vir haar ’n teken van bemoediging en iets wat haar herinner aan die Heilige Gees se leiding en teenwoordigheid in haar lewe.
Begeer jy die tasbare teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou lewe?  Die wonderlike nuus is dat jy die volheid van die Heilige Gees elke oomblik by jou het.  Met die uitstorting van die Heilige Gees, het  die dissipels nie net ’n stukkie van die Heilige Gees ontvang nie, die skrif sê hulle is vervul met die Heilige Gees.  (Hand 2:4) Vervul beteken volgemaak, tjok-en-blok, plek vir niks anders nie!
As ’n klein dogtertjie van ses jaar oud,  presies weet wanneer die Heilige Gees met haar praat, hoeveel te meer moet ons, wat die Here al baie langer ken, nie weet nie.
Ek weet nie van jou nie, maar my hart brand om die Heilige Gees in my binnegoed te voel!  Kom ons word bewus van die geskenk van die Heilige Gees elke oomblik van elke dag, by ons, in ons en om ons.

Here
Dankie, dat ons nie doodgaan nie, maar dat ons vir ewig lewe deur Jesus se bloed.  Gee vir ons ’n leerbare gees, dat ons nie kosbare oomblik in hierdie lewe mis nie.  Dankie, vir die geskenk van die volheid van die Heilige Gees.  Vervul ons vandag opnuut met ’n vars porsie van U!

Amen


Sunday, 17 February 2013

Hoe gaan dit met jou hart?
Geskryf deur Rosa Duvenhage
Johannes 3:16 - “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê
Die vraag, wat  is liefde, is  aan ’n klassie met voorskoolse kindertjies gevra.  Hier is ’n paar van die antwoorde.

o   "When my grandmother got arthritis, she couldn't bend over and paint her toenails anymore. So my grandfather does it for her all the time, even when his hands got arthritis too. That's love." Rebecca- age 8

o   "Love is when you tell a guy you like his shirt, then he wears it everyday." Noelle - age 6

o   "Love is when my mommy makes coffee for my daddy and she takes a sip before giving it to him, to make sure the taste is OK." Danny - age 7

o   "You really shouldn't say 'I love you' unless you mean it. But if you mean it, you should say it a lot, because People forget." Jessica - age 8

o   "When someone loves you, the way they say your name is different. You just know that your name is safe in their mouth." Billy – age 4



Jesus het nie verniet gesê dat ons soos kindertjies moet word om die Koninkryk van God te ontvang nie. (Markus 10:15) Kinders kyk verby die “window dressing” van die wêreld.
Liefde is soos suurstof, niemand kan daarsonder oorleef nie.  Sonder liefde is daar niks, gee begin, geen einde geen storielyn!
Spreuke 4:23 sê:  Wees versigtig  met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Daar is ’n direkte lyn tussen liefde en die mens se hart. Die hart is die kern van ons menswees.  Dis die beheerkamer van ons elke dag se lewe.  In ons hart lê die potensiaal waarmee God ons geskape het om te wees wie Hy ons gemaak het om te wees, perfek en volgens Sy beeld.
Die vraag is hoekom sien ons dit dan nie in ons lewe nie en hoekom leef ons nie in oorwinning nie?

In Markus 6:52 lees ons van die dissipels wie se harte verhard was. Die Griekse woord vir “verhard” beteken hier, “’n dik vereelte vel”.  Ons lewe in ’n wêreld waar swaarkry, skinder, agterbaksheid, teleurstelling, oneerlikheid, gierigheid en haat dinge is waarmee ons gereeld gekonfronteer word.  In die stryd om onsself te beskerm teen swaar en seer verhard ons harte en onbewustelik veroorsaak dit “afstand” tussen ons en God en steel dit `n lewe van oorwinning.
Die Here gee egter vir ons die volgende riglyn:

2 Korintiërs 10: 3-5
“Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie.
Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig.
Daarmee vernietig ons die redenasies  en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word.
Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.”

Dit is dus baie belangrik waarmee ons onsself besig hou.  Waaroor dink jy?  Wat lees en kyk jy?  Aan watter gesprekke neem jy deel?  2 Kor.10:5 leer ons, om ons gedagtes gevange te hou.  Om nie ingetrek te word deur die praatjies van die wêreld nie, maar om te fokus op dit wat Jesus reeds oorwin het!

Ons lees in Esegiël 36:26 die volgende wonderlik woorde  - “Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die klip-hart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.”

Meeste van ons het jare terug reeds ons harte vir Jesus gegee, vandag is dit dalk weer tyd, om vir Jesus in te nooi en hom toe te laat om nie net die eelte om ons harte te verwyder nie, maar vir ons nuwe harte te gee.  Om die Heilige Gees toe te laat om ons te leer hoe om ons gedagtes gevange te hou en hemelse dinge te bedink, al is die wêreld rondom ons in chaos!

Here

Dankie, dat U vir my gesterf het sodat ek ’n lewe van oorwinning kan leef.  Gee vandag vir my ’n nuwe hart en ’n nuwe gees!

Amen


 


Thursday, 14 February 2013

Die bekommernis boompie
Geskryf deur Rosa Duvenhage

JESAJA 41:10
Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.

Daar was eendag ’n boer wat besig was om sy ou plaashuis op te knap.  Hy het ’n loodgieter gehuur om hom te help. Die arme loodgieter het ’n vreeslike eerste dag gehad.  Hy was ’n uur laat as gevolg van ’n pap wiel, sy boor het gebreek en teen huis toe gaan tyd het sy voertuig geweier om te vat. 
Die boer het aangebied om die loodgieter huis toe te vat. Hulle het voor die loodgieter se huis gestop en hy het die boer ingenooi om sy gesin te ontmoet.  Op pad na die voordeur, het die loodgieter vir ’n oomblik vasgesteek by ’n boom in sy tuin, aan die blare geraak en verder gestap, Toe hy die voordeur oopmaak het hy 'n absolute transformasie ondergaan. Sy gesig het skielik begin gloei van blydskap en met 'n breë glimlag het hy sy vrou en twee kinders omhels. Nadat die boer hulle ontmoet het, het die loodgieter saam met hom terug gestap na sy motor.
Die boer kon nie sy nuuskierigheid bedwing nadat hy die gesin se vreugde aanskou het nie.  Hy vra toe vir die loodgieter wat het gebeur vandat hy uit die motor geklim het tot hy die voordeur oopgemaak het?  Die man antwoord met die volgende woorde: 
 “Sien jy hierdie boom in my tuin, dis my bekommernis boom. As ek saans by die boom verbystap, hang ek al my werksprobleme en bekommernisse aan ’n tak.  Dan vra ek vir God om na die probleme om te sien.   As ek dan by die huis instap vergeet ek van die probleme en kan ek my gesin geniet en al my aandag aan hulle gee. In die oggend haal ek weer my probleme van die tak af en sorteer dit dan uit so goed ek kan.  Jy sal dit nie glo nie, maar my sakkie probleme is elke oggend heelwat ligter as die aand tevore!
Ons lees op verskeie plekke in die Bybel oor bekommernis en nog steed trap ons elke dag in dieselfde gat.  Ons voer die bekommernis gogga so gereëld dat dit  ons opvreet, vergiftig en uitspoeg sonder enige seremonie! Daar word gepraat van “die siekte van ons tyd”. 
Die enige effektiewe medisyne vir die siekte van ons tyd, vind ons in die Woord van God. 
Matt. 6:25 - 27
“ . . . Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? . . . Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?
Die realiteit is, ons lewe in ’n wêreld waar ons elke dag met probleme worstel. Gewoonlik is die probleem so intimiderend dat ons magteloos en verlam voel. 
Volgens God se Woord is jy nie magteloos nie, jy het die vryheid om te kies!  Gaan jy  bekommernis kies of gaan jy die swaard van die woord uithaal, daaraan vasklou met als wat jy het, en op so manier die gogga se kop afkap!
Waaroor is jy vandag bekommerd? 
Is dit jou kind, jou finansies, jou gesondheid, jou huwelik of jou werk? 
God, wat alles gemaak het, wat oor jou gedink het voor die grondlegging van die wereld, spreek nou die volgende woorde oor jou probleem:
My liewe kind, Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. (Jes. 41:10)

Here
Wat ’n voorreg om U kind te wees.  Dankie, dat ons nou ons bekommernisse vir U kan gee.  Dankie dat U 100% genesing bring vir die wat siek is.  Dankie, vir finansiële restourasie waar dit nodig is , dankie vir werksprobleme wat U besig is om uit te sorteer, dankie vir herstel en genesing in huwelike, dankie dat U ons kinders bewaar en dankie dat U is, wie U is, -  Die God van liefde en lewe en oorvloed.
Amen!


Tuesday, 12 February 2013

Die Handskud
Geskryf deur Rosa Duvenhage
Ek lees die storie van ’n man wat tydens die tweede wêreldoorlog gevange geneem is.  Hy vertel hoe hy vir drie jaar lank alleen in ’n sel opgesluit was.  Hy het geen kontak met ander gevangenis gehad nie, sy daaglikse roetine het bestaan uit die uitvee van sy sel, die opsê van elke liewe Bybelversie wat hy kon onthou en  ’n  bord kos wat een keer per dag deur die gleufie in die deur gestoot is.
Hy het moed begin verloor, hy kon die eensaamheid nie meer verdra nie .  Een oggend nadat hy sy sel uitgevee en die stof deur die gleufie buitentoe gestoot het, toe gebeur ’n vreemde ding.  Hy sien hoe die stof wat hy uitgestoot het, weer teruggestoot word deur die gleufie.  Hy stap nuuskierig nader en stoot weer die stof buitentoe, maar hierdie keer is hy gereed en toe hy die stof sien terugkom steek hy sy hand deur die gleufie en gryp die besem vas.  ’n Benoude stem aan die ander kant fluister die woord “khong” wat beteken “nee” in Viëtnamees.  Hy besef dadelik dat die persoon aan die ander kant van die deur benoud is en  seker ook maar net  ’n gevangene is soos hy, en hy los dadelik die besem. 
Terwyl hy onseker oor wat volgende gaan gebeur, nog op sy knieë staan voor die opening, toe steek die Viëtnamees sy hand deur die gleufie, slaan haastig twee keer op die sel vloer en hou sy hand uit in die vorm van ’n groet.  Sy honger vir menslike aanraking, het in ’n oomblik alle vrees oorskry en vir die eerste keer in drie jaar raak hy aan ’n ander mens.
Hy vertel hoe hy en die vreemdeling aan die ander kant van die deur, vir ’n paar sekondes krampagtig  met albei hande aan mekaar vasgehou het.  Na daardie dag het dit nooit weer gebeur nie, maar die aanraking van die vreemdeling, het hom hoop gegee en hom aan die lewe gehou tot hy vrygelaat is.
Die eerste gebod in die Bybel leer ons om die Here lief te hê met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand en die tweede gebod wat aan die eerste een gelykstaan is om mense lief the hê soos jouself (Markus 12:30)
As ons kyk na hoe Jesus mense liefgehad het terwyl Hy op aarde was, het dit telkens met aanraking gepaard gegaan.  Dink aan die blinde man wat kon sien, nadat  Jesus modder aan sy oë gesmeer het of aan Jesus wat Sy hand uitgesteek het om vir Petrus te red toe hy op die water geloop het (Matt. 14:30)  Ons lees selfs dat mense aan Jesus gevat het en deur geloof genees is, soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.
Ons is geskep om vir God lief te wees en om mense te help. 
As jy vir Jesus aangeneem het, is Sy volheid in jou, dit beteken jy maak ’n verskil in ’n wêreld deur elke glimlag, elke woord van lewe, elke handskud. As jy in ’n vertrek instap, stap Jesus saam met jou.  As jy iemand toevou in ’n omhelsing, dan is dit Jesus se arms rondom daardie persoon.
Bill Johnson vertel dat die eienaar van ’n winkel waar hy elke dag brood en melk koop eendag na hom kom en vra, wat het jy wat ek nie het nie, want elke keer as jy in my winkel instap verander die atmosfeer.
Kom ons word “atmosphere changers” in ’n wêreld wat krampagtig vasklou aan dooie dinge.
Here
Maak ons lewensredders in hierdie wêreld wat doodgaan van geestelike eensaamheid en honger.  Laat ons oorloop van liefde, want dis wie U is!

Amen



Sunday, 10 February 2013

Geloof soos ’n kind

Heb 11:1"Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie".

My vriendin het ’n seuntjie, wat mal is oor diere. Hy het altyd ’n diertjie wat hy besig is om te versorg. So gebeur dit toe dat hy weer een dag ’n voëltjie met ’n seer vlerk op die gras gewaar. Hy het die voëltjie gevang en na ’n paar dae se liefdevolle versorging was die voëltjie gereed om losgelaat te word. Almal in die gesin is bymekaargeroep en het effens geïrriteerd buitetoe gestap om te kom kyk hoe die voëltjie losgelaat gaan word.

Die voëltjie was gereed, het sy vlerke ’n paar keer geskud en sonder moeite begin vlieg. Sy balans was egter bietjie aangetas en net toe hy mooi op spoed is, toe vlieg hy teen die huis se venster vas. Die voëltjie het morsdood op die gras neergeval.

Almal het nader gehardloop en die seuntjie het die dooie voëltjie versigtig opgetel. Die trane het reeds oor sy wange geloop, hy het plat op sy boude gaan sit, opgekyk na die hemel en met ’n ernstige stemmetjie tussen die trane deur gebid; "in die naam van Jesus laat my voëltjie lewe!" Die volgende oomblik het die voëltjie soos ’n pyl uit ’n boog die lug ingeskiet, ’n paar draai oor die huis se dak gevlieg en teen die horison verdwyn . . .

Nadat sy hierdie storie met my gedeel het, sit ons twee lank net vir mekaar en kyk. Die grootheid van dit wat gebeur het besig om in te sink. Vir weke al gesels ons oor geloof, oor wat geloof is en hoe om in geloof te lewe elke dag, en hier kom haar seuntjie en hy doen dit net! Hy doen dit sonder om ’n seminaar by te woon, ’n boek te lees, of weke lank daaroor te bespiegel.

Hoeveel van ons wat lief is vir die Here het geen idee waar ons geloof heen is nie. Ons het dit dalk op ’n stadium gehad, maar elke keer as die lewe ons ’n dwarsklap gee, dan is ons geloof by die venster uit. Hoe kan ons ons geloof versterk en as dit weg is waar kry ons dit weer.

Die volgende woorde uit die skrif, antwoord die vraag:
JOHANNES 8:30 - Terwyl Hy hierdie dinge gesê het, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom.
Geloof kom dus deur die woord van God.

Die woord van God is ons lig in die donker, dis die een vaste ding in hierdie wêreld wat nooit verander nie. Uit God se woord kry ons alles wat ons nodig het om ons toe te rus vir hierdie aardse lewe. ’n Lewe waar ons geloof nodig het om in oorvloed te leef en bruikbaar te wees in die Koninkryk van God.

As ek kyk na hierdie klein seuntjie en sy groot geloof is daar een ding wat soos ’n paal bo water staan en dis dat hy weet wie die Here is. Hy probeer nie in sy eie krag iets doen nie, hy word nie kwaad of raak moedeloos nie, hy roep net sy Pappa se naam.

Begeer jy so geloof?

Here

Vandag bid ek dat ons U beter sal leer ken. Die geskenk van geloof kan nie oopgemaak en waardeer word as ons nie die Een wat die geskenk gee ken nie. Leer ons deur U woord en deur die Heilige Gees wie U is en maak ons geloof vegters in U koninkryk, sodat ons reeds hier op aarde in U volheid kan lewe!

Amen

Thursday, 7 February 2013

Baklei of bid?

Geskryf deur Rosa Duvenhage

Jes. 65:24 -En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek.

Vanoggend voel soos skattejag. Ek ry in die motor saam met my man, hy werk vir die padongelukke-fonds en is op soek na ’n getuie in in saak waarmee hy besig is. Ons word gestuur van George na Hartenbos en op die ou einde vat ons die pragtige Robertson pas na ’n klein dorpie met die naam Ruiterbos.
Ons stop vinnig by die Ruiterbos plaas winkeltjie vir aanwysings. Ek glimlag oor die bord wat lees:

General dealer:
local craft, local gossip.
Ice cold petrol & diesel.

Binne minute neem ons ’n grondpaadjie deur die denne plantasie en bereik ons bestemming: Denneprag Primêr. Die netjiese hout geboutjies staan op ’n effense koppie; aan die een kant is die berg en aan die ander kant strek die plantasie so vêr die oog kan sien. Die mis hang soos ’n vet spookasem teen die kruin van dié bielie. Die lug ruik soet van die Agapanthus en krismisrose wat oral blom, dis ’n lus vir die oog . .
’n Klein bruin vroutjie met ’n voorskoot loer by een van die geboue uit en staan flink nader. Sy stel haarself voor as Maria en beduie na waar die getuie reeds vir my man sit en wag. Maria is al vir sewe jaar lank deel van Denneprag, die staat ondersteun die skool en Maria is die kok. Sy sorg dat elkeen van die sestig kinders in die skool, twee keer per dag ’n voedsame ete kry. Ons twee hou sommer dadelik van mekaar en Maria maak haar tuis teen die neus van die motor.

Sy vertel hoe wonderlik dit is om te sien hoe die kindertjies opgroei van die gesonde kos waarmee sy hulle voer. Sy vertel dat die staat die skool wou toemaak en hoe die mense van Ruiterbos baklei het vir die behoud van Denneprag Primêr.

" Jinne, het ons nou ’n groot les geleer," vertel sy, "ons het onse arms stompies gebaklei en elke dag ’n span nuwe planne gemaak, tot ons besluit het om te begin
bid." Sy gooi dramaties haar arms in nie lug en sê, "as ons net van die begin afgebid het, was baklei glad nie nodig nie."

My man kom aangestap en Maria staan op en vryf haar voorskoot reguit.
Jy moet die koerante dophou, groet sy, jy sal nog sien, die Vader het goeie plan met hierdie skool. Met my se kookkuns en die Vader se goeie planne gaan die kinders van hierdie skool nog Ruiterbos op die "map" sit.

Die kort ontmoeting met Maria herinner my aan Fill 4:6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
Ek het eenkeer die mooi woorde gehoor oor gebed – Gebed is ’n sleutels waarmee jy die deur oopsluit sodat God kan werk.

Hoeveel keer trap ons nie in die gat om alles self te probeer doen nie. Ons sê so dikwels die woorde, "ek het nou alles in my vermoë gedoen, al wat nou oorbly is om te bid.
Die waarheid is dat dit die resep is vir mislukking. God sê duidelik in Fill 4:6 vir ons dat ons alles wat ons nodig het van God moet vra. Alles beteken alles! Nie net dit wat ons nie self kan uitsorteer nie. Ons leef in die illusie dat ons self ons lewe beheer en beplan, en eers na ure se bekommer, stoei en slaaplose nagte, bid ons . . .

Vanoggend het die kort tydjie in Maria se geselskap ’n groot impak op my hart gemaak. Ek besef net weer, waar die Here se hand in ’n saak is, is daar nie plek vir die vyand nie. Dis tyd dat ons die Woord van God prakties begin maak in ons lewe. Ons sit met ’n Bybel vol beloftes, en ons lees dit maar ons pas dit nie toe in ons elke dag se staan en sit nie.

Wie weet, miskien wag die Here vir jou om op te hou baklei en te begin bid sodat Hy dit waarmee jy worstel kan afhandel.

Here

Dankie, vir Maria se diensbaarheid en haar les oor gebed. Leer ons om te bid voor ons planne maak. Maak ons Fil.4:6 mense, wat met alles na U toe kom. Here,
want dis net binne U goeie planne vir ons lewe wat ons op die "Map" kan kom soos Maria sê!

Amen

Tuesday, 5 February 2013

God se vriend

Geskryf deur Rosa Duvenhage

Eksodus 33:11 - Die Here het met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend praat.
Ek stop voor die ouetehuis se versorgingseenheid. `n Jakaranda boom staan in volle blom en die geur van die bloeisels laat my terugdink aan my studente dae in Pretoria. Wonderlike stukkies onthou maak my tree ligter soos ek opstap met die trappies. Hier woon my ouma se suster, sy is 100 jaar en 3 maande oud. Dis nie altyd `n lekker besoek nie. Ten spyte daarvan dat die tehuis baie mooi kyk na die bejaardes is baie van hulle eensaam en siek.

Ek groet die tannie by die ontvangs, sy is besig om `n paar viooltjies nat te gooi, sy ken my al, en beduie ek kan maar ingaan. Ek stap verby die binnehof. Op `n stoel in die oggendsonnetjie sit `n krom figuurtjie, oor haar bene is `n bont blokkies kombers. Haar grys haartjies is yl en happerig gesny. Ek steek vas in die deur en luister hoe sy met `n bewerige stemmetjie sing-" i am a friend of God, i am a friend of God, i am a friend of God, He calls me friend" Een van die versorgers kom staan langs my en sê, sy is nuut, sy sing heeltyd dieselfde woorde oor en oor, dis seker maar die Alzheimer’s . . .

Ek stap nader en hurk vir ’n oomblik langs haar. Haar benerige handjie is koud. Die lig val op haar gekreukelde gesiggie en dans in haar helder oë. Sonder om te reageer sing sy verder," I am a friend of God, He calls met friend . . . "

Eksodus 33:11 - Die Here het met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend praat.

Ek kon nie anders as om aan Moses te dink nie. Kan jy jouself indink hoe dit moes voel om Moses te wees. Die arme man het sy hande vol gehad met `n volk wat murmureer oor alles. Hy was die tussenganger, die spreekbuis en die slaansak. Hy was verantwoordelik vir duisende mense in `n woestyn, sonder water, kos, geriewe of `n padkaart . . .

Maar in plaas daarvan dat Moses die hase pad kies en omslaan van spanning, spandeer hy tyd saam met God, sy vriend. Moses gaan vir lang tye op na die
berg Sinai, dis hier waar God vir hom die voorskrifte gee waarvolgens die volk moet lewe, en waar `n onbreekbare vriendskap gevorm word. Moses kom nie net wyser en beter toegerus vir sy taak van die berg af nie, maar sy voorkoms blink van die Heerlikheid van God. Die volk kan sien dat Moses in God se teenwoordigheid was.

Hoe gaan dit met jou? Het jy `n vriendskap met God? Is jy eensaam? Voel jy bekommernis en spanning kry jou onder? Voel jy nie opgewasse vir dit wat van jou verwag word nie?

God wil nes soos met Moses, jou vriend wees. Hy is daar om jou toe te rus met wysheid, om jou hand vas te hou as dinge te veel raak. Om jou te troos as jy hartseer is en saam met jou te droom oor die toekoms. God wil jou toevou in Sy heerlikheid en jou die LIG gee van Joh. 8:12 - Ek is die LIG van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die LIG van die lewe hê"

Ek wens ek het die hele storie geken van die tannie in die ouetehuis. Iets vertel my dat God haar vriend is. Daar waar vlees opgee en siel nie meer fuksioneer nie, jubel haar gees oor `n vriendskap met die Koning van die heelal, en ek wonder of die glans op haar gekreukelde gesiggie dalk meer is as net die oggendson . . .

Here

Ek begeer met alles in my om U vriend genoem te word. Leer my hoe!

Amen

Sunday, 3 February 2013

Waar woon jy?


2 Korintiërs 12: 8-10


" . . .Ek het baie maal vir die Here gevra dat Hy hierdie ding moet wegneem. Maar Hy het vir my gesê: "Ek is genadig vir jou, en dit is genoeg, want wanneer iemand weet dat hy swak is, dan word my krag in sy lewe meer."

Dit was ‘n perfekte Sondag middag op die strand. Die see was kalm en die water so helder dat die sonstrale tot op die bodem skyn. Terwyl ons lui in die water hang, van my oog iets wit op die bodem. Ek buk af en vat ’n perfekte pansy skulpie raak.

Dis nogal skaars om ’n heel pansy op te tel en ’n paar vriende staan nader om te kyk.
Een van die kindertjies kom ook nader en sonder om te dink sit ek die pansy in haar hand, omdat sy nie weet hoe sag en delikaat die skulpies is nie, vat sy net te hard en ʼn hoekie van die Pansy breek af.
Ons plaas elke dag ons harte, ons lewens, ons menswees in ander mense se hande. Party mense vat saggies, hulle is versigtig en hanteer ons mooi. Ander mense besef nie hoe broos ons is nie, en rig baie keer onherstelbare skade aan deur woorde en dade.

Hierdie seerkry hanteer ons op soveel maniere, ons bou mure, dra maskers, kruip weg, maak oorlog, en op die ou einde slaan ons, ons tentjies op in die land van selfbejammering. In hierdie land, is dit aanvaarbaar om gereeld mens se seer uit te haal, dit af te stof en seker te maak dis nog so seer en stukkend soos ons onthou.
Hierdie selfbejammering ritueel maak ons kampplek groter, slaan die tentpenne dieper in en maak dit ons permanente tuiste. In hierdie kampplek is daar baie kampers wat gereeld om ʼn koue vuur sit en hulle wonde met mekaar sin vergelyk.

Paulus skryf in 2 Korintiërs 12: 8-10

Ek het baie maal vir die Here gevra dat Hy hierdie ding moet wegneem. Maar Hy het vir my gesê: "Ek is genadig vir jou, en dit is genoeg, want wanneer iemand weet dat hy swak is, dan word my krag in sy lewe meer."
Daarom sal ek graag spog dat ek swak is, want dan is die krag van Christus in my. Daarom is ek tevrede wanneer ek swak is, wanneer mense my beledig,
wanneer ek swaarkry, wanneer mense slegte dinge doen aan my, en wanneer ek probleme het. Want ek weet dat alles gebeur omdat ek aan Christus behoort. Ja, ek is tevrede, want wanneer ek swak is, dan is ek sterk.

Niemand in hierdie wêreld spring seerkry vry nie, maar ons het ʼn keuse waar ons wil woon. Wil ons in die land van selfbejammering kamp of wil ons in die skaduwee van God se vlerk woon. Daar is ook ʼn kampvuur, dis ʼn warm vuur teen ʼn koue wêreld. Rondom hierdie vuur word daar fees gevier. Hier hang die reuk van oorwinning in die lug en in die gloed van hierdie vuur word vryheid gevier!

Here,

Dankie vir soveel perfekte gawes wat ek uit U hand ontvang. Help my Here om nie vas te kyk in die hoekies van my lewe wat afgebreek is nie, maar help my om juis uit my seer ‘n getuie vir U te wees. Hou my veilig onder U vlerk.

Amen