Wednesday, 15 May 2013

Disprin mense

Donderdae middae is uitmergelend . . .
Van die oomblik wat die skoolklok lui jaag ons rond van die een aktiwiteit na die volgende. Dis net voor vyf toe ons voor die huis stilhou. Terwyl ek die voordeur sleutel in die slot druk, piep my foon.  Dis tannie Anita wat vra of ek tuis is vir ’n vinnige koffie. Ons twee het al ’n week terug ’n afspraak gehad, maar elke keer val iets voor.
Ek stoot die deur oop en my moed sak in my skoene, die huis staan op sy kop.  Ek SMS met een vinger terwyl ek kombuis toe stap om die pakkies neer te sit.
Die gewone middag-na-skool pandemonium breek los in die huis.  Sussie pak haar huiswerk uit en Hanna Montana blêr vanuit haar kamer. Boetie oefen sy rugby pass in die gang en ek koes vir ’n bal in die verbygaan.  Terwyl ek orde probeer skep op die eetkamertafel, hoor die hond iets in die straat.  Hy spring met ’n gejuig op en hol amper my voete onder my uit.
Ek hoor ’n klop aan die deur en in die middel van die chaos loer tannie Anita se altyd vriendelike gesiggie om die hoek. Sy gee my ’n stywe druk en maak haarself tuis in my wêreld.
So tussen die kinders en die  huiswerk deur kuier ons te lekker.  Ons drink ’n eerste en later ’n  tweede beker koffie, terwyl ek my verlustig in brokkies van haar lewensverhaal.
Terwyl ek begin aartappels skil vir aandete gesels ons oor haar oorsese toer wat sy so pas agter die rug het.  Sy vertel dat haar man haar beste vriend was en al het sy vreeslik swaargekry na sy dood, het sy besluit om nie op te hou lewe nie.
Tannie Anita sê die volgende woorde:  My kind, ’n  mens moet nooit toelaat dat iemand anders die sleutel van jou geluk in sy broeksak dra nie. 
Haar woorde raak my diep . . .
Ek het eenkeer ’n stukkie gelees wat handel oor “disprin-mense”. 
’n Disprin mens is iemand wat sy identiteit verloor in mense en dinge rondom hom. Hy los op in sy omstandighede en is soos ’n golf wat in die oseaan heen-en-weer- geslinger word.
Disprin mense lewe ook in ’n disprin wêreld waar die sleutel van  geluk in die broeksak van ’n hartelose en koue wêreld is.  ’n Wêreld wat beheer word deur dooie dinge soos tyd, geld en mag en ek wonder wat oor is van God se opdrag in Genesis 2 om te heers oor die skepping.
Ek kyk na Tannie Anita wat te midde van die chaos van ’n skool middag, rustig om my tafel kuier.  Ek hoor die woorde van Gees en Lewe wat uit haar mond kom. Ek sien haar diep geloof ten spyte van die letsels wat die lewe op die mure van haar hart gelos het, en ek besef die sleutel van haar geluk is op ’n veilige plek. 
Dis op ’n  plek vol vrede, ’n plek waar dit nie deur mot en roes, skeiding en  benoudheid, lewe of dood gesteel kan word nie.  Dis in die hand van ’n liefdevolle, wonderlike betrokke Pappa.
As iets of iemand die sleutel van jou geluk vashou, neem dit vandag terug en bewaar dit met jou hele lewe, sodat jy soos tannie Anita van Glentana, met blink oë en ’n  lewe vol reise en  avonture, brokkies daarvan kan uitdeel, en ’n verskil kan maak wat nie deur  mot of roes, skeiding of  benoudheid, lewe of dood gesteel kan word nie.

Here
Dankie, dat die sleutels van my geluk veilig is by U.  Dankie, vir wonderlik wyse mense in ons lewe.  Here leer my om my identiteit in U te vind en nie soos ’n disprin op te los in die wêreld en sy dinge nie. Dankie, vir U liefde!
Amen


Wenners



"Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”
Galasiërs 2:19 en 20

Dis Saterdagaand half sewe.  “Die blou bul eet nie van die vloer af nie”  blêr oor die kombi se radio en ’n groep manne braai wors op ’n gas braai. So vêr as die oog kan sien staan ’n see van rugby-ondersteuners wat gereedmaak om die wedstryd in die stadion te gaan kyk.
Dis reeds sterk skemer en die groot spreiligte maak patrone teen die wolke wat nog laag hang na die reën. Vanaand speel rooi teen blou en die lug is gelaai met opwinding.  Harde musiek doef-doef van die stadion se kant af terwyl mense soos beeste in ’n drukgang deur die hekke beweeg.
’n Jong pappa vleg deur die mense, ’n opgewonde, blou geverfde,  kleutertjie sit op sy skouers. ’n Grys omie met ’n weglêsnor en  sy span se wapen op sy kepsie stap gefokus deur die skare, agterna kom sy  vroutjie aan geskarrel. ’n Luidrugtige groep studente in oorpakke staan gereed vir ’n foto en ’n straatverkoper doen ’n dansie terwyl hy ’n vlag smous.
Binne minute skuif ons by ons sitplekke in, en maak gereed vir die wedstryd.  Die lug is gelaai met elektrisiteit en die skare brul toe die fluitjie blaas en die bal deur die lug trek.  Vir die volgende tagtig minute verloor die ondersteuners hulself in die wedstryd. Duisende mense spring soos een man op, skreeu  bevele, swaai arms deur die lug en wens mekaar geluk as hulle span punte aanteken.
Die eindfluitjie blaas en twee stewige, uitgegroeide manne, gryp mekaar om die lyf en spring in die rondte van blydskap oor hulle gewen het. . .
Die Koninkryk van God en ’n rugby-ondersteuner het baie dinge in gemeen.
 ’n Rugby-ondersteuner kies ’n span wat hy voel goed genoeg is om hom te verteenwoordig.  Hy dra die span se kenmerkende klere of kentekens, volg die span se bewegings, gesels daaroor met ander rugby liefhebbers en wanneer sy span wen, dat vier hy fees asof hy self op die veld was.
Die dag wat jy vir Jesus gekies het, het Jesus jou verteenwoordiger geword. Sonder om in ’n stal in Betlehem gebore te word, of houtwerk in Nasaret te doen of aan die kruis te sterf, het jy saam met Jesus uit die dood opgestaan en  die oorwinning behaal
Jy lewe nie meer nie maar Jesus lewe in jou, al was jy nie fisies self daar nie.(Gal 2:19 en 20)
Dis vir ons so maklik om die oorwinning van ons sport span te aanvaar, maar ons sukkel om te aanvaar wat  Jesus vir ons gedoen het.  Sonder om aan ’n bal te raak, noem ons onsself die wenners, maar ons dink omdat ons nie self die prys betaal het vir ons sonde nie, tel dit nie.
As iemand vandag kom en hy koop vir jou ’n rugby kaartjie, dan is die kaartjie betaal.  Wie die kaartjie betaal het, maak geen verskil nie, of die kaartjie reeds betaal is, maak die verskil.
Jesus het als reeds gedoen, maar ons kort geloof om dit te verstaan en te aanvaar: In ’n rugbywedstryd word die telling op die telling bord aangedui, geloof help ons om ’n oog te hou op die telling wat Jesus aangeteken het.
Daar is ’n woord wat lees “Net hulle wat geloof het, kan gehoorsaam wees en net die gehoorsame het geloof.”

Ons het geloof nodig om te weet dat dit waar is wat die Bybel sê oor ons opstanding saam met Christus en om uit te leef wat ons bely.

God kyk na jou en hy sien dat jy waardig is omdat Jesus vir jou betaal het. Is dit nie fantasties nie?

Here
Dankie, dat ons op die paviljoen van die lewe kan sit as oorwinnaars.  Dankie, dat ons U kon kies, al het U ons reeds lankal gekies. Dankie, dat U die volle prys betaal het en dat U in U volheid in ons lewe.  Dis so groot dat ons dit nie werklik kan verstaan nie, ons bid dat U dit in ons harte sal openbaar sodat ons in oorwinning kan lewe!
Amen


Klippies

En dit is die lewe:  dat hulle U ken, die enigste ware God en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. (Joh. 17:3)
Ons stap twee rye spore af strand toe.
Grys miswolke hang laag oor die hawe.   Dis koel vir n someroggend en ek vou my hand om die warm koppie Wimpy koffie.
Ons is n halfuur vroeg vir ons afspraak in Mosselbaai en daar is geen beter plek om die tyd om te kry nie.
Dit lyk of die hawe nog slaap.  Bont bootjies dobber in die baai en gooi lang gekleurde strepe oor die water. Mosselbaai se huisies staan soos hare op n  hond se rug, al teen die randjie uit.  Die see is rustig en sus saggies terwyl die golwe lui op die strand uitspoel
Stadig oor die sand kom n ou vroutjie aan geskuifel.  Sy het haar swemklere aan.  In haar hand dra sy n  handdoek en n bont swem kappie wat beslis nie uit hierdie eeu dateer nie.  Sy sit haar goedjies n paar treë van ons af neer, trek die swem kappie behendig oor haar yl grys haartjies en raak haar tone n paar keer.  
Wat n pragtige oggend, groet sy met n glimlag.”  Sy lyk soos iets uit n antieke winkel, met haar gekreukelde vel en die bont gedoente op haar kop.
“Gaan tannie swem in hierdie koue weer,” vra ek?
Ja, my kind, ek swem elke mooi someroggend, antwoord sy vriendelik.  Hoe kouer dit is, hoe sekerder is ek, ek lewe nog.  Sy buk af, en tel iets van die strand af op, skuifel nog bietjie nader, en kyk ons vierkantig in die oë.  
Die Bybel sê ons lewe maar sewentig jaar en as ons baie sterk is tagtig. Sy vou haar handjie, wat die tekens van ouderdom dra stadig oop. 
In haar palm, lê daar sewe klippies.  Sy skud die klippies deurmekaar en sê, dis al wat ons kry.  Sonder seremonie gooi sy al sewe klippies oor haar skouer, en glimlag breed.  My klippies is klaar, elke dag, vir ʼn oumens soos ek is ʼn geskenk. . . .
Sy skuifel aan en groet oor haar skouer voordat sy die water instap.  Sprakeloos sit ons op die strand, terwyl die ou vroutjie se woorde in die oggendlug lug hang.
Op pad terug motor toe, tel ek sewe klippies op, ek gooi die paar dekades wat ek al gelewe het oor my skoue en kyk na dit waar oorbly in my hand . . .  
Heeldag maal die ontmoeting met die verkreukelde vroutjie deur my gedagtes.
Moeg gedink oor die klippies, lees ek die volgende woord oor die lewe in Joh. 17:2-3: 
U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee.  En dit is die lewe:  dat hulle U ken, die enigste ware God en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.
Wat ons ook al doen en hoe baie of min ons ook al oor die lewe redeneer, is daar niks konstant behalwe dat ons God ken nie. Die illusie van drie, of vyf of een klippie bestaan nie.  Al wat ons werklik het, is die minuut waarin ons leef en die vaste sekerheid van n eindbestemming.  n Ewigheid in die teenwoordigheid van God, ons liefdevolle Pappa.
Here
Dankie, vir elke dag! 
Leer ons hoe om te lewe, hoe om met sekerheid en afwagting en entoesiasme die klippies in ons hand tot eer van U koninkryk aan te wend.
Amen


Thursday, 18 April 2013

Die geel gevaarte

Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon. (Ps. 92:13)
In Suid-Afrika is ons redelik gewoond aan onverskillige bestuurders, of so het ek gedink tot ek in Phan se TUK-TUK beland het in Thailand.
Op ’n tropiese middag, in die hoof straatjie van die dorpie Patong, op die eiland Phuket, het ons vir Phan ontmoet.
Hy het met skrefies oë en ’n breë glimlag gegroet, ’n lappie uit sy sak gehaal en haastig die sitplek van sy driewiel gevaarte afgestof.  Dit was ’n uitnodiging om van sy “very good taxi service” gebruik te maak.  Na ’n ligte gekibbel oor die vervoertarief het ons niksvermoedend, agter in sy geel TUK-TUK ingewurm en soos sardines in ’n blik, gewag dat hy ons neem na die mark soos afgespreek.
Die volgende paar minute het die tropiese kleur van die see en die reuk van kokosneut en frangipani bloeisels soos mis voor die son verdwyn. My lewe het voor my afgespeel . . .  
Die geel gevaarte het met ’n gebrul weggetrek en Phan het sonder om enige verkeersreëls te volg,  met die spoed van wit lig tussen busse, motorfietse en Taiwanese straat-brakke deurvleg. Ons is oor sypaadjies, deur slaggate en teen een rigtings op . . . 
Na die nagmerrie-ondervinding het ons uiteindelik die mark gehaal, maar ons moes ’n paar ure later weer terug hotel toe.  Ons het planne beraam om sonder ’n TUK-TUK oor die weg te kom, maar Phan was ons beste opsie en om eerlik te wees het die ander taxi nie veel veiliger gelyk nie.
 Teen die derde dag, het my senuwees kalmeer en het ek vrede gesluit met  Phuket se enigste verkeersreël, naamlik dat daar geen reëls is nie!
Ek het gebid vir ’n leërskare engele en met hope geloof en bietjie waansin het ons die res van die vakansie in Phan se TUK-TUK oorleef.
 Die laaste oggend in Phuket  kom groet Phan ons,  met ’n  vriendelike skrefiesoog vroutjie aan sy sy.  Hy stel haar voor as “Dtaan”.  Hy verduidelik dat haar naam “Palm” beteken en op die vraag hoekom sy ’n boom se naam het, antwoord hy met blink oë en groot handgebare: 
Die palmboom, is ’n wonderlike en heilige plant.  Hy is baie buigbaar en kan in sterk wind, ombuig tot hy die grond raak sonder om te breek!  Die boom staan altyd weer op na die storm en groei dan ekstra mooi omdat hy dankbaar is . . .
Lank nadat ek Thailand se stof van my skoene afgeskud het, onthou ek nog die Phan se verduideliking van die palmboom. 
Ek lees dat ’n Palmboom tot vyf ure van orkaan sterk wind kan oorleef. Volgens bioloë word ’n palm se wortelstelsel in werklikheid versterk deur so ’n storm.  In die maande na die storm groei die boom ook dubbel so vinnig as voor die tyd.
In die Woord vergelyk God ons nie met ’n magtige Eik of die majestueuse Denneboom nie, maar juis met die palmboom, met sy dun buigbare stam.
Ps. 92:12 sê dit duidelik:  Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome.
Somtyds is die lewe soos ’n rit in Phan se  buite beheer TUK-TUK.  Jy sit soos ’n sardine in visblik, tussen ’n knop en ’n harde plek met min tot geen opsies.
Dis dan die tyd my liewe reisgenote om te bid vir ’n leërskare engele, en om met baie geloof, en bietjie waansin, vas te klou vir lewe en dood, want nie lank van nou af nie is dit ’n storie om te vertel. ’n Avontuur, ’n merkie op jou kerfstok. Iets wat jy oorleef het en net soos ’n palmboom na ’n stormweer regop kom en met mening groei omdat hy dankbaar is volgens Phan.  Net so sal ons weer opstaan en sterker wees as tevore en met die reuk van dankbaarheid en ’n skatkis vol opwindende verhale sal ons dubbel so vinnig groei, nes hoë Seders op die Libanon
Here
Dankie, dat U soveel veerkrag in ons ingebou het.  U ken ons breekpunt, maar ook ons groeipunt.  Dra ons van krag tot krag!

Amen

Dorings

Ek parkeer, soos elke week-middag onder die reuse ou akkerboom voor die kinders se skool. 
Terwyl ek vir die klok wag, dwarrel die eerste oranje blaar deur die lug en land op my windskerm. Herfs is hier!
Die oggende is reeds koeler en die sonlig ure korter,  Herfs beteken ook die begin van ons reënseisoen en so saam met die oranje blaar val ons eerste reënbui net voor sononder.
Die reën is vinnig oor en die laaste bietjie son druk deur die wolkbank en baai die landskap voor ons huis in ’n misterieuse koper gloed.
Dis so asemrowend dat ons gesin gou strand toe stap om te deel in ’n bietjie van die mooi.
Nadat ons gekyk het hoe die son in skakerings van koper in die see verdwyn, stap ons terug huis toe.
Ons dogtertjie hardloop kaalvoet vooruit en trap in ’n groot bos dorings.  Sy sit so keel op dat my man vinnig nader draf, haar in sy arms optel en haar tot by die stoep dra.  Daar vee hy haar trane af en  trek  versigtig al die dorings uit haar voetjies.
Paulus skryf in  2 Kor. 12:7-8  van ’n doring in sy vlees. Hy skryf hoe hierdie doring sy lewe versier en hoe hy drie maal vir die Here gevra het om die doring weg te vat.
Die Here antwoord egter nie vir Paulus op die manier waarvoor hy gevra het nie.  Die Here antwoord hom met die volgende woorde :
“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.  Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees” 2 Kor. 12:9
Net soos wat my man, hardloop om ons dogtertjie uit die dorings te help, so maak God ook met ons. 
Hy snel ons te hulp en al neem Hy nie altyd die dorings weg nie, doen Hy iets veel beter, Hy dra ons met dorings en al.  Hy neem ons na ’n veilige plek, waar ons die gesig van Sy genade leer ken.  Waar Hy ons trane afdroog en ons leer dat Sy krag ons beskutting is.
As ’n aardse pappa, hardloop om sy kind uit die dorings op te tel, hoeveel te meer sal ons Skepper God dit nie doen nie. 
Hy het reeds voor die begin van tyd oor ons gedroom, ons met presiesheid in ons moeder se skoot aanmekaar geweef. 
Hy het Sy eie seun gestuur om met ’n doringkroon op sy kop te sterf, sodat ons kaalvoet en sonder vrees deur die lewe kan loop!

Here,
Dankie, vir U Woord.  Dankie, vir seisoene, reën, ’n koper son-sak en ’n herfsblaar op ’n windskerm, wat ons elke oomblik herinner aan U teenwoordigheid, U goedheid en U almag! Dankie, dat ons nooit alleen is nie, maar dat U ons altyd styf vashou terwyl U ons deur die dorings dra.
Amen!


Saturday, 13 April 2013

Lewe

We do not remember the days we remember the moments . . .
Dis Maandagoggend.  Die kelner sit ’n perfekte cappuccino voor my neer en ek vou dankbaar my hande om die warm koppie.  Ons sit in ’n Italiaanse restourantjie in Wilderness.  Die bitter reuk van geroosterde koffiebone hang in die lug en dit meng met die souterige seemis wat nog laag oor die dorpie hang.  Die restourantjie is klein en gesellig.  Teen die mure is daar ou swart-en-wit-foto’s van mense wat spaghetti eet, blikke vol ingelegde tamaties en rakke vol droë pasta.  Die kole gloei rooi in die bek van die pizza oond.  Teen die muur tussen die foto’s en bont bordjies staan die volgende woorde:  We do not remember the days, we remember the moments . . .
Ons kuier saam met kosbare vriend wat ryk is in jare en wysheid.  Ons luister meer as wat ons praat en ek verkyk my aan die die rustigheid en tevredenheid van die twee mense wat oorkant ons sit.  Die lyne op hulle gesigte vertel van jare se emosie, van sonskyn en reën, vanaf-en-opdraandes, van mislukkings en oorwinnings. Terwyl ons kuier, is dit die volgende woorde wat my hart raak.
 “Sommige mense soek hulle lewe lank na hulle skeppings doel.  Die lewe het ons geleer, doen wat jou hand vind om te doen en doen dit goed!”
Dit herinner my aan ’n plantjie in die Saharawoestyn wat sy hele lewe in een dag lewe.  Sodra die saadjie ’n bietjie water kry, bot dit en maak ’n stingel, kry blare, maak ’n blom en vorm saadjies,  verlep,  val plat en teen die aand is alles verby  . . .  Tog is die plantjie nie nutteloos nie.  Hy laat ’n voetspoor, wat die voortbestaan van sy spesie verseker. 
Soms spook en spartel ons onsself gedaan om sin te probeer maak van die lewe terwyl dit lyk of dit vir ander sommer self gebeur.
Miskien dink ons te veel oor die lewe en spandeer ons te min tyd by wysheid se voete.
Miskien moet ons meer op Maandag oggende die deurmekaar huis en vol dagboek eenkant toe skuif en belê in ’n uur se saamwees oor ’n beker goedheid. 
Miskien moet ons net elke dag doen wat ons hand vind om te doen en dit goed doen!
Marion Howard skryf die volgende woorde oor die lewe:  Die lewe is soos ’n klein kombersie.  Trek dit tot onder jou ken op, verkluim jou tone;  maak jy jou voete toe, bewe jou skouers en ore weer.  Gelukkig is hulle wat geleer het om hulle knieë op te trek en rustig te slaap.
Mag ons leer om nie die lewe te ernstig op te neem nie, om gereeld te lag en somtyds ons eie reëls te breek. 
Mag ons baie onthou oomblikke bymekaarmaak  sodat  ons eendag kan terugkyk sê:  We do not remember the days we remember the moments . . .
Here,
Dankie, vir die geskenk van die lewe.  Ek bid dat ons die lewe sal voel en ruik en proe en lewe en dat ons ’n voetspoor sal los wat U naam  verheerlik.
Amen!

Tuesday, 9 April 2013

Kleipotte

As hoop nie in ons oor gefluister het dat môre beter sal wees nie, hoe sou enigeen die moed hê om deur vandag te kom?  Robert Burns
Onder normale omstandighede sou ons seker nooit vriendinne gewees het nie.  Ons ouderdom, belangstellings en die seisoene in ons lewens is so uiteenlopend, maar op ’n wonderbaarlike manier bevind ons, onsself ’n paar oggende ’n week in mekaar se geselskap. 
Dis in die uurtjie, gewoonlik koponderstebo of op die naat van jou rug, in die callanetics  klas waar ons mekaar raak leef.  Hier lag ons oor ons flaters, gesels ons oor die nuutste fliek, die beste boek, die lekkerste restaurant. Ons stort ’n traan oor ’n egskeiding, word kwaad oor die swak regsisteem en verskil oor baie dinge.
Dis een Vrydagoggend na klas waar ons soos een man met ’n bos blomme opdaag by ’n koffiewinkel.  Vanoggend kom ondersteun ons ’n Callanetics-maatjie voor haar eerste bestraling. Sy sit met haar hart in haar hande, terwyl sy eerlik en reguit praat oor die vyand in haar, oor haar vrees vir die onbekende en die hoop op herstel.
Paulus skryf in Korintiërs die volgende:
 2 Korintiërs 4:7-9 ““Al is God by my, is ek maar net ‘n doodgewone mens. Ek is soos ‘n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ‘n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel: Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op.” (Die Boodskap)

Waar is jy vandag?  Is jou kleipot vol krake of lê hy reeds in skerwe?
Paulus se woorde gee my vandag hoop vir my vriendin met kanker, dit gee my hoop vir vrouens met leë arms, stukkende huwelike en onbeheerbare tieners.  Dit maak my opgewonde oor ’n onbreekbare skat wat nie deur die verganklikheid van hierdie wêreld geraak word nie.  ’n skat wat ons help om kop bo water te hou al lyk die toekoms donker, ’n skat wat ons elke keer weer laat opstaan al is ons nerwe deur geval!
Mag ons die groot krag van God wat in Paulus gewerk het, ook in ons lewens ervaar.  Mag ons ook baklei teen mismoedigheid en radeloosheid en weet dat God ons nooit alleen los nie.  Mag ons altyd onthou daar is ’n  waardevolle en kragtige skat in ons!
Here
U liefde gaan ons verstand te bowe!  Dankie, vir die baie waardevolle skat binne ons.  Leer ons om daarvan bewus te wees en die te bewaar en te bewonder!
Amen

Ankers

Heb 6:19 - “Om God so te vertrou is soos ‘n geestelike anker. Dit gee ons lewe vastigheid en sekerheid. Dit verbind ons ook direk met God...”  (Boodskap)

’n Spesie word geklassifiseer as iets met dieselfde eienskappe.

In Suid-Afrika spog ons met baie verskillende spesie mense. Daar is vissermanne, rugby-ondersteuners, motorfiets ryers, gholfspelers, perde liefhebbers, fietsryers, drawwers en nog baie meer.

Ons gesin is deel van die kampers; wat ’n eienaardige, wonderlike spesie!  ’n Kampterrein is seker die enigste plek ter wêreld waar mens met ’n toiletrol onder jou arm en 100% selfvertroue kennis maak met die bure. 
Dis op ’n sonnige windstil middag wat ons met ons karavaan in Jeffreysbaai stilhou.  Ons het die perfekte staanplek, nie te naby aan die see nie, genoeg skaduwee, naby ’n kraan, goeie braaiplek en net ’n  hanetreetjie van die badkamer.
’n Vriendelik swart man kom nader gestap, hy stel homself voor met ’n lang moeilike naam en ons besluit sommer hy is Mopo. Mopo is ’n kamp engel.  Hy sorteer pale, knoop toue, kap penne en vat raak! Binne ’n rekordtyd staan ons tent.
Mopo loer egter die hele tyd na die blou wolkbank wat op die horison hang.  Toe die tent staan, loer hy weer vir die wolke, fluit saggies tussen sy tande deur,  praat lang sinne binne-in sy mond, en toe begin hy soos ’n spinnekop ’n web bou.  Heen-en-weer- maak hy toue en nette en bande kruis en dwars  bo-oor die tent vas.  Hy anker ons so vas dat ek nie weet hoe ons ooit weer gaan loskom nie.
Daardie aand breek die moeder van alle storms los, maar Mopo se spinnerak hou ons geanker!

God se woord is  vol ankers.  Die eerste en grootste anker is dat God ’n waarmaker van Sy woord is.  Hy kan nie lieg nie.  Die Bybel is in alle opsigte waar.  Ons kan staan op die belofte in Jes. 55:11:

“...so sal My woord wees wat uit my mond uitgaan; dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur”  

Nog ’n anker is gebed.  Hiskia het hierdie anker gebruik (toe hy besig was om te sterf) en God het hom 15 jaar langer laat leef. (Lees 2 Kon. 20)
Die derde anker is hoop. Daar is ’n Franse spreekwoord wat sê: hoop is die arm man se brood.  Die Woord sê die volgende oor hoop:
Heb. 6:18: “Ons moet vas hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel...” 
Die oggend na die storm was die kampterrein ’n  slagveld!  Mense se tente is geskeur, pale is gebuig en verniel, asblikke het omgewaai en rommel lê die wêreld vol.  Net die kampers wat op die regte manier geanker was, het sonder skade die storm oorleef.
Is dit nie wonderlik om te weet ons het ’n  anker nie.  Al waai die wind ons bang, is ons geanker in hoop, gebed en bo alles God se woord.

Here,
Dankie dat U ons anker is.  Sonder U kan ons nie eers in die windstil tye oorleef nie.  Help ons om goed voorberei te wees op die storms wat kom, want met U as anker is ons veilig.
Amen!

Monday, 25 March 2013

Karoo nag

Karoo nag

Beskerm my soos die appel van U oog, steek my weg in die skaduwee van U vleuels (Ps 17:8)

Dis skuins na middernag. Ons is gedaan, en daar is nog ’n paar ure se ry wat voorlê. Ons stop in Beaufort-Wes. Met stywe bene, gaan soek ek koffie terwyl my man brandstof ingooi. Ek loer by die agterste sitplek in, waar die kinders rustig slaap. Die dorpie is doodstil, behalwe vir twee katte wat amok maak by die vullisdrom.

In die flou ligte van die vulstasie, loer ek vir die honderdste keer op die kaart, asof dit die pad korter gaan maak . . .

Binne minute sing die bakkie se bande weer op die karoo pad. Die sterre hang in blink trosse aan die hemel en ek skuif die kokende koffie eenkant toe opsoek na ʼn radio stasie.
"Sjoe, kyk net daar," sê my man. Op die randjie van die pikswart horison is ʼn goudgeel maan besig om sy kop uit te steek. Dis so asemrowende prentjie, dat ek nie eers ʼn oog knip toe die bakkie langs die N12 tot stilstand kom nie.

Asof gehipnotiseer deur die maanlig, klim ons uit.

Dis doodstil . . .

Dis so stil dat mens jou eie hart hoor klop. Ons slaan die agterste klap van die bakkie oop en gaan sit in verwondering en kyk na die prentjie wat voor ons afspeel. Ons is alleen in die wêreld is. Die koel karoo luggie stoot saggies, die lug ruik na grond en soet kruie. Stoom staan op ons, nog warm koffie en iewers maak ʼn nagdiertjie geluide. Soos die maan al groter en vetter en geler word, word die landskap rondom ons sigbaar. Die bome gooi skaduwees en die klippe blink liggies in die maanlig.
Die oomblik is so heilig, en ek wonder of daar nog mense op aarde is wat kyk hoe skenk die heelal geboorte.

Onwillig om afskeid te neem, trek ek die karoo-lug diep in my longe, en bêre die prentjie naby my hart . . .
Ek het eendag gehoor hoe iemand vertel dat hy God makliker ervaar in die dun tye van die dag. Daarmee het hy bedoel, vroeg in die oggend, net voor die eerste strale van die son en die goue uur net voor die son sak. Daardie aand in die karoo, was een van daardie dun tye. Tevredenheid het soos ’n kombers om ons gevou en vir een oomblik, was alles in die heelal perfek.

Dis baie keer op lang, uitmergelende paaie, waar God ons inwag met ’n stukkie skoonheid uit Sy hand. God het immers die skepping vir ons gemaak, om daaroor te heers en die skoonheid daarvan te geniet. Ons is veronderstel om God in die laaste strale van die son te sien of in die ryp op die gras of die volmaan in die Karoo. Dis God se manier om ons daaraan te herinner dat Hy, God is.

Baie dae beplan ons roetes, en ons kyk op die kaart en ons probeer koers hou, maar dis tevergeefs.
Dis sulke dae, wat ek die nag in die Karoo uit die bêre plekkie naby my hart haal.
Dis dan wanneer ek besef dat ons ʼn God dien wat nie volgens menslike tyd en roetes en kaarte werk nie.
Ons dien ʼn God wat langs ons wil stap.

’n Liefdevolle Vader wat wil hê ons moet Sy stem goed genoeg ken om te luister as Hy die roete verander.
Ons dien ʼn God wat belowe, wanneer jy die regte pad verlaat, sal jy ’n stem agter jou hoor sê, dis die pad, loop hierlangs (Jes. 30:21)

Mag ons God se stem leer ken! Mag ons baie prentjies bymekaarmaak wat ons naby ons harte kan bêre en mag ons nooit ooit die koers verlaat nie, maar altyd in God se skadu bly . . .

Amen!

Tuesday, 19 March 2013

Wees bly in die Here!

Wees bly in die Here!
Filippense  4:4 - Wees bly in die Here, ek herhaal, wees bly!
Dis Januarie maand!!
Die Kerstyd is verby, eerste week van skool het begin en die pas voel vinniger as ooit tevore. 
Ek stop voor die nuwe skool met die nuwe juffrou en nuwe maatjies.  Sussie kom aangedraf met haar sakkie en gesels haarself uit asem.
Sy vertel van haar juffrou se mooi skoene, die weerkaart, al die nuwe kryte en dan die hoogtepunt!
Sy het ʼn splinter nuwe beste maatjie, sy kan glad nie haar naam onthou nie, maar sy het lekker broodjies in haar kosblik en sy is aartappel kleur.  Aartappel kleur – vind elk later uit is ʼn mooi beskrywing vir die kleurling dogtertjie met die strikkies in haar vlegsels. 
Dis met lag in my hart dat ek ʼn paar dae later teen die Hoogekraal bult stop om ʼn aartappel kleur vroutjie op te laai.  Haar pienk kopdoek wapper in die wind soos sy nader draf.  Sy maak die deur van die motor oop en groet met ʼn vriendelike, tandlose glimlag.  Haar klein handjies is skurf gewerk en sy bêre versigtig haar half gerookte “zol” in ʼn banksakkie.   Nadat ons afgespreek het waar ek haar sal aflaai, begin ons te gesels.
“Hoe gaan dit met jou?”  vra ek die doodnormale vraag.
Daar skuif ’n uitdrukking van bonatuurlike vrede oor haar verrimpelde gesiggie en met ’n glimlag wat die geheimenisse van die wêreld oopsluit sê sy die volgende woorde:
 “My liefie, die Jirre, Sy laaik my baja!!”
Te vinnig laai ek die hemelse wese af en soos die kilometers verbyrol  en net die reuk van haar Bokser tabak in die lug hang, draai haar woorde in my kop:  “Die Jirre Sy laaik my baja!!”
Ek sê die woorde hardop en die lekkerkry laat sommer my gemoed oorloop. Met ’n dankbare hart sê ek ook sommer dankie dat ek nie die Hoogekraal bult hoef uit te stap of Bokser twak hoef te rook nie.
Ek sien die statige Outeniqua in die agtergrond en die mielies wat groen staan op die lande, en ek weet, ek het vandag ʼn aartappel kleur engel in my motor gehad en die Jirre Sy laaik my ook baja!!

Here
Dankie vir soveel goeie gawes uit U hand en U engele om ons elke dag!
Amen

Thursday, 14 March 2013

Honger?

Honger?
Geskryf deur Rosa Duvenhage
Ek hou my man se hand styf vas terwyl ek die omgewing rondom my bekyk.  Ons is in ’n mark in Istanbul. 
Die reuse-stad met 13 Miljoen inwoners is voorwaar ’n sensoriese belewenis van kleure, geure en  klanke.  Die stad staan wydsbeen oor twee kontinente, met een voet in Europa en die ander een in Asië.
Terwyl ons deur die besige mark stap verdwaal ek in die lewendige ritme van Istanbul. ’n Lang Turkse man met smeulende oë verkoop bloedrooi granate, terwyl die skril klanke van tradisionele Turkse musiek meng met die geluide wat opklink uit die mark.  ’n Sterk kruie geur hang in die lug, waar ’n vrou staan en pakkies maak met ’n reënboog van poeiers, kaneel stokkies, blare, saffraan en bont peperkorrels. 
In ’n klein straat kafeetjie sit mense op dik-gestopte kussings en lag uitbundig terwyl hulle appel tee drink uit klein glasies.  ’n Lui gemmerkat lê uitgestrek in die flou herfs sonnetjie en spring verskrik regop toe ’n vrou, twee kleuters met ’n besem verwilder wat te naby aan haar hand-geverfde breekware speel.
Ons beweeg uit die mark en stap kaart in die hand ’n paar blokke vêrder.  Dis hier waar ons op een van die juwele van Istanbul afkom.  ’n Klein vis-mark, aan die voet van die Galata brug.  Groot kratte vis van verskillende vorms en grotes staan onder ’n rooi en wit strepies afdak.  ’n Groep mans bie opgewonde en ’n paar werkers laai oorvol kratte vis agter in ’n koeltrok. 
Die hipnotisering reuk van varsgebraaide vis en warm brood hang in die lug.  Ons  stap verby die vis vandisie en word vriendelik gegroet deur ’n Turkse  man agter ’n braaier. 
Hy kan geen snaar Engels praat nie en na ’n paar minute se handgebare sit ek en my man op die muurtjie van die Galata brug, elkeen met ’n ongelooflike ete wat bestaan uit ’n perfek gebraaide vissie, ge-suurlemoen en gesout en toegevou in ’n warm broodrolletjie met dik skywe ui.
Terwyl ons eet,  kyk ons hoe die laaste strale van die son, verdwyn agter die torings van die “New Mosque”, hoe die  seemeeue laag oor die water van die “golden horn”  draai en die inwoners van Istanbul hulle weg vind huis toe. . .
In die Bybel lees ons op ’n paar plekke van brood en vis.  Ons lees hoe dit Jesus en die dissipels se kos was en ook hoe dit gebruik is om die skare wat agter Jesus aanbeweeg het te voed.
Dit was op so ’n keer wat die dissipels vir Jesus gevra het om die mense weg te stuur sodat hulle kan gaan eet.  Daar was net vyf brode en twee vissies en 5 000 mans (sonder die vroue en kinders) om te voer.

Ons lees in Luk. 9:16 Maar Jesus gee die opdrag dat hulle die mense moet laat sit.  Hy neem die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee.
Die deel van die verhaal wat my tref is dat Jesus die brood en die vissies vat en dit aan Sy dissipels gee om uit te deel. Die wonderwerk van die vermeerdering van die kos het in die dissipels se hande plaasgevind.

Dit laat my dink aan dit waarmee ons, in ons hande sit vandag.  Ek praat nie van aardse dinge soos geld en besittings nie, ek praat van groter dinge.  Dinge soos ons  getuienis, die wonderwerke wat God in ons  lewens doen, die hoeveel liefde, tyd en omgee waaruit ons bestaan en die feit dat die lewende Gees van God in ons woon!  

Ons besef nie wat ons in ons hande het nie. Ons besef nie dat ons die potensiaal in ons dra om die wêreld honger te maak vir die dinge van God nie.

God sê in Amos 8:11 “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor.

Vandag sit ek weer op die muur van die Galata brug in die bedrywige Istanbul.  Ek hou my brood en vis, my getuienis, my tyd, my liefde, my alles, uit na die Here.

Ek bid dat die Here, dit wat ek in my hande hou, sal seën en vermeerder. 
Dat ek nie klippe sal gee waar mense brood nodig het nie en dat ek met God as my padkaart altyd my weg sal vind huis toe.

Maar meer as als bid ek vir ’n honger na die woord van God soos nog nooit tevore nie!

Here,

Dankie, vir hierdie interessante wêreld!  Dankie, dat ons nie net per ongeluk hier is nie, maar dat U ’n plan het met elkeen van ons.  Here trek ons dieper in en vat ons nader as ooit tevore aan U. Ons het U lief met alles in ons!

Amen



Tuesday, 12 March 2013

Van geloof tot geloof

Van geloof tot geloof
Geskryf deur Rosa Duvenhage
Geloof is soos elektrisiteit.  Dit is onsigbaar maar jy kan die lig sien
Net nadat ek en my man getroud is, kom kuier my skoonouers vir die naweek by ons.  Kyk, die meenthuisie blink.  Daar is blomme in die sitkamer, die yskas is vol kos en alles is net reg.
Vrydagaand loop goed af en ek besluit om die Saterdagoggend vroeg op te staan om vir my gaste skons te bak vir ontbyt.  Ek meng alles volgens die resep.  Ek rol die deeg liggies uit, volgens die resep! Ek bak die perfekte ronde skonsies vir die regte hoeveelheid minute, volgens die resep, maar iets is fout.  Die skons rys nie eers ’n millimeter nie.  Hulle is kliphard en toegeslaan en plat.
My man kom loer waarmee ek besig is en nadat hy my plat oneetbare skonsies gesien het, reken hy as ek vir hom nog so paar honderd duisend bak, dan bou hy vir ons ’n huis. . .
Nodeloos om te sê, ek dink ons het roosterbrood vir ontbyt gehad.
Baie keer benader ons, ons verhouding met die Here soos ’n resep.  Ons glo wanneer ons die regte bestanddele gebruik en die stappe volg dan sal ons suksesvolle Christene wees.
Ek luister na die getuienis van Neels Labuschagne wat vertel dat daar eendag ’n man na hom toe gekom het met ’n seer rug.  Die Here het vir hom gewys terwyl hy bid het, dat die man moet af buk en sy skoenveters moet vasmaak.  Hy het vir die man gesê om dit te doen en sy rug het in plek geskuif en die pyn was weg.
Neels sê:  “Dit beteken nie dat ek nou elke keer vir iemand met ’n seer rug gaan sê om sy skoenveters vas te maak nie.  Ons dien ’n kreatiewe God. Vir Wie ons nie  in ’n boksie kan sit nie, Hy praat elke keer op ’n  vars manier met ons praat.”
Ons lees in Hebreërs van Henog.  Daar staan dat Henog geglo het, daarom het hy nie gesterf nie maar is hy deur God weggeneem.  Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. (Heb11:5)
In my eie woorde staan hier dat Henog deur sy geloof in God, geleer het hoe om reg te leef.  Hoe om ’n lewe te lei wat God behaag, nie deur reëls te volg op reseppies uit te toets nie, maar deur in ’n lewendige verhouding met God te staan.
Net geloof behaag God!  Niks anders nie.
Jesus sê, maak net jou hart vir My oop   "Enige iets is moontlik vir die wat in My glo” (Mark 9:23)
Ek het intussen geleer dat mens by Woolies die perfekte, klaar gebakte skons kan koop.  Jou kombuis is nie vuil nie, jy het baie tyd om die tafel mooi te dek en dit kan nie flop nie.  ’n Verhouding met God is presies dieselfde, jy hoef nie te “perform” om God te beïndruk nie.  Dis alles klaar gedoen, jy kan net in geloof en liefde na Sy stem luister en ’n wonderlike tyd in Sy teenwoordigheid deurbring.

Here
Vandag vra ons vir geloof.  ’n Groot geloof soos Henog sin, dat daar ook van ons getuig sal word, dat ons ’n lewe leef wat U behaag!
Amen