Thursday, 18 April 2013

Dorings

Ek parkeer, soos elke week-middag onder die reuse ou akkerboom voor die kinders se skool. 
Terwyl ek vir die klok wag, dwarrel die eerste oranje blaar deur die lug en land op my windskerm. Herfs is hier!
Die oggende is reeds koeler en die sonlig ure korter,  Herfs beteken ook die begin van ons reënseisoen en so saam met die oranje blaar val ons eerste reënbui net voor sononder.
Die reën is vinnig oor en die laaste bietjie son druk deur die wolkbank en baai die landskap voor ons huis in ’n misterieuse koper gloed.
Dis so asemrowend dat ons gesin gou strand toe stap om te deel in ’n bietjie van die mooi.
Nadat ons gekyk het hoe die son in skakerings van koper in die see verdwyn, stap ons terug huis toe.
Ons dogtertjie hardloop kaalvoet vooruit en trap in ’n groot bos dorings.  Sy sit so keel op dat my man vinnig nader draf, haar in sy arms optel en haar tot by die stoep dra.  Daar vee hy haar trane af en  trek  versigtig al die dorings uit haar voetjies.
Paulus skryf in  2 Kor. 12:7-8  van ’n doring in sy vlees. Hy skryf hoe hierdie doring sy lewe versier en hoe hy drie maal vir die Here gevra het om die doring weg te vat.
Die Here antwoord egter nie vir Paulus op die manier waarvoor hy gevra het nie.  Die Here antwoord hom met die volgende woorde :
“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.  Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees” 2 Kor. 12:9
Net soos wat my man, hardloop om ons dogtertjie uit die dorings te help, so maak God ook met ons. 
Hy snel ons te hulp en al neem Hy nie altyd die dorings weg nie, doen Hy iets veel beter, Hy dra ons met dorings en al.  Hy neem ons na ’n veilige plek, waar ons die gesig van Sy genade leer ken.  Waar Hy ons trane afdroog en ons leer dat Sy krag ons beskutting is.
As ’n aardse pappa, hardloop om sy kind uit die dorings op te tel, hoeveel te meer sal ons Skepper God dit nie doen nie. 
Hy het reeds voor die begin van tyd oor ons gedroom, ons met presiesheid in ons moeder se skoot aanmekaar geweef. 
Hy het Sy eie seun gestuur om met ’n doringkroon op sy kop te sterf, sodat ons kaalvoet en sonder vrees deur die lewe kan loop!

Here,
Dankie, vir U Woord.  Dankie, vir seisoene, reën, ’n koper son-sak en ’n herfsblaar op ’n windskerm, wat ons elke oomblik herinner aan U teenwoordigheid, U goedheid en U almag! Dankie, dat ons nooit alleen is nie, maar dat U ons altyd styf vashou terwyl U ons deur die dorings dra.
Amen!


No comments:

Post a Comment