As hoop nie in ons oor gefluister het dat môre beter sal wees nie, hoe sou enigeen die moed hê om deur vandag te kom? Robert Burns
Onder normale omstandighede sou ons seker nooit vriendinne gewees het nie. Ons ouderdom, belangstellings en die seisoene in ons lewens is so uiteenlopend, maar op ’n wonderbaarlike manier bevind ons, onsself ’n paar oggende ’n week in mekaar se geselskap.
Dis in die uurtjie, gewoonlik koponderstebo of op die naat van jou rug, in die callanetics klas waar ons mekaar raak leef. Hier lag ons oor ons flaters, gesels ons oor die nuutste fliek, die beste boek, die lekkerste restaurant. Ons stort ’n traan oor ’n egskeiding, word kwaad oor die swak regsisteem en verskil oor baie dinge.
Dis een Vrydagoggend na klas waar ons soos een man met ’n bos blomme opdaag by ’n koffiewinkel. Vanoggend kom ondersteun ons ’n Callanetics-maatjie voor haar eerste bestraling. Sy sit met haar hart in haar hande, terwyl sy eerlik en reguit praat oor die vyand in haar, oor haar vrees vir die onbekende en die hoop op herstel.
Paulus skryf in Korintiërs die volgende:
2 Korintiërs 4:7-9 ““Al is God by my, is ek maar net ‘n doodgewone mens. Ek is soos ‘n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ‘n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel: Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op.” (Die Boodskap)
Waar is jy vandag? Is jou kleipot vol krake of lê hy reeds in skerwe?
Paulus se woorde gee my vandag hoop vir my vriendin met kanker, dit gee my hoop vir vrouens met leë arms, stukkende huwelike en onbeheerbare tieners. Dit maak my opgewonde oor ’n onbreekbare skat wat nie deur die verganklikheid van hierdie wêreld geraak word nie. ’n skat wat ons help om kop bo water te hou al lyk die toekoms donker, ’n skat wat ons elke keer weer laat opstaan al is ons nerwe deur geval!
Mag ons die groot krag van God wat in Paulus gewerk het, ook in ons lewens ervaar. Mag ons ook baklei teen mismoedigheid en radeloosheid en weet dat God ons nooit alleen los nie. Mag ons altyd onthou daar is ’n waardevolle en kragtige skat in ons!
Here
U liefde gaan ons verstand te bowe! Dankie, vir die baie waardevolle skat binne ons. Leer ons om daarvan bewus te wees en die te bewaar en te bewonder!
No comments:
Post a Comment