Saturday, 13 April 2013

Lewe

We do not remember the days we remember the moments . . .
Dis Maandagoggend.  Die kelner sit ’n perfekte cappuccino voor my neer en ek vou dankbaar my hande om die warm koppie.  Ons sit in ’n Italiaanse restourantjie in Wilderness.  Die bitter reuk van geroosterde koffiebone hang in die lug en dit meng met die souterige seemis wat nog laag oor die dorpie hang.  Die restourantjie is klein en gesellig.  Teen die mure is daar ou swart-en-wit-foto’s van mense wat spaghetti eet, blikke vol ingelegde tamaties en rakke vol droë pasta.  Die kole gloei rooi in die bek van die pizza oond.  Teen die muur tussen die foto’s en bont bordjies staan die volgende woorde:  We do not remember the days, we remember the moments . . .
Ons kuier saam met kosbare vriend wat ryk is in jare en wysheid.  Ons luister meer as wat ons praat en ek verkyk my aan die die rustigheid en tevredenheid van die twee mense wat oorkant ons sit.  Die lyne op hulle gesigte vertel van jare se emosie, van sonskyn en reën, vanaf-en-opdraandes, van mislukkings en oorwinnings. Terwyl ons kuier, is dit die volgende woorde wat my hart raak.
 “Sommige mense soek hulle lewe lank na hulle skeppings doel.  Die lewe het ons geleer, doen wat jou hand vind om te doen en doen dit goed!”
Dit herinner my aan ’n plantjie in die Saharawoestyn wat sy hele lewe in een dag lewe.  Sodra die saadjie ’n bietjie water kry, bot dit en maak ’n stingel, kry blare, maak ’n blom en vorm saadjies,  verlep,  val plat en teen die aand is alles verby  . . .  Tog is die plantjie nie nutteloos nie.  Hy laat ’n voetspoor, wat die voortbestaan van sy spesie verseker. 
Soms spook en spartel ons onsself gedaan om sin te probeer maak van die lewe terwyl dit lyk of dit vir ander sommer self gebeur.
Miskien dink ons te veel oor die lewe en spandeer ons te min tyd by wysheid se voete.
Miskien moet ons meer op Maandag oggende die deurmekaar huis en vol dagboek eenkant toe skuif en belê in ’n uur se saamwees oor ’n beker goedheid. 
Miskien moet ons net elke dag doen wat ons hand vind om te doen en dit goed doen!
Marion Howard skryf die volgende woorde oor die lewe:  Die lewe is soos ’n klein kombersie.  Trek dit tot onder jou ken op, verkluim jou tone;  maak jy jou voete toe, bewe jou skouers en ore weer.  Gelukkig is hulle wat geleer het om hulle knieë op te trek en rustig te slaap.
Mag ons leer om nie die lewe te ernstig op te neem nie, om gereeld te lag en somtyds ons eie reëls te breek. 
Mag ons baie onthou oomblikke bymekaarmaak  sodat  ons eendag kan terugkyk sê:  We do not remember the days we remember the moments . . .
Here,
Dankie, vir die geskenk van die lewe.  Ek bid dat ons die lewe sal voel en ruik en proe en lewe en dat ons ’n voetspoor sal los wat U naam  verheerlik.
Amen!

No comments:

Post a Comment