Heb 6:19 - “Om God so te vertrou is soos ‘n geestelike anker. Dit gee ons lewe vastigheid en sekerheid. Dit verbind ons ook direk met God...” (Boodskap)
’n Spesie word geklassifiseer as iets met dieselfde eienskappe.
In Suid-Afrika spog ons met baie verskillende spesie mense. Daar is vissermanne, rugby-ondersteuners, motorfiets ryers, gholfspelers, perde liefhebbers, fietsryers, drawwers en nog baie meer.
Ons gesin is deel van die kampers; wat ’n eienaardige, wonderlike spesie! ’n Kampterrein is seker die enigste plek ter wêreld waar mens met ’n toiletrol onder jou arm en 100% selfvertroue kennis maak met die bure.
Dis op ’n sonnige windstil middag wat ons met ons karavaan in Jeffreysbaai stilhou. Ons het die perfekte staanplek, nie te naby aan die see nie, genoeg skaduwee, naby ’n kraan, goeie braaiplek en net ’n hanetreetjie van die badkamer.
’n Vriendelik swart man kom nader gestap, hy stel homself voor met ’n lang moeilike naam en ons besluit sommer hy is Mopo. Mopo is ’n kamp engel. Hy sorteer pale, knoop toue, kap penne en vat raak! Binne ’n rekordtyd staan ons tent.
Mopo loer egter die hele tyd na die blou wolkbank wat op die horison hang. Toe die tent staan, loer hy weer vir die wolke, fluit saggies tussen sy tande deur, praat lang sinne binne-in sy mond, en toe begin hy soos ’n spinnekop ’n web bou. Heen-en-weer- maak hy toue en nette en bande kruis en dwars bo-oor die tent vas. Hy anker ons so vas dat ek nie weet hoe ons ooit weer gaan loskom nie.
Daardie aand breek die moeder van alle storms los, maar Mopo se spinnerak hou ons geanker!
God se woord is vol ankers. Die eerste en grootste anker is dat God ’n waarmaker van Sy woord is. Hy kan nie lieg nie. Die Bybel is in alle opsigte waar. Ons kan staan op die belofte in Jes. 55:11:
“...so sal My woord wees wat uit my mond uitgaan; dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur”
Nog ’n anker is gebed. Hiskia het hierdie anker gebruik (toe hy besig was om te sterf) en God het hom 15 jaar langer laat leef. (Lees 2 Kon. 20)
Die derde anker is hoop. Daar is ’n Franse spreekwoord wat sê: hoop is die arm man se brood. Die Woord sê die volgende oor hoop:
Heb. 6:18: “Ons moet vas hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel...”
Die oggend na die storm was die kampterrein ’n slagveld! Mense se tente is geskeur, pale is gebuig en verniel, asblikke het omgewaai en rommel lê die wêreld vol. Net die kampers wat op die regte manier geanker was, het sonder skade die storm oorleef.
Is dit nie wonderlik om te weet ons het ’n anker nie. Al waai die wind ons bang, is ons geanker in hoop, gebed en bo alles God se woord.
Here,
Dankie dat U ons anker is. Sonder U kan ons nie eers in die windstil tye oorleef nie. Help ons om goed voorberei te wees op die storms wat kom, want met U as anker is ons veilig.
No comments:
Post a Comment