Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon. (Ps. 92:13)
In Suid-Afrika is ons redelik gewoond aan onverskillige bestuurders, of so het ek gedink tot ek in Phan se TUK-TUK beland het in Thailand.
Op ’n tropiese middag, in die hoof straatjie van die dorpie Patong, op die eiland Phuket, het ons vir Phan ontmoet.
Hy het met skrefies oë en ’n breë glimlag gegroet, ’n lappie uit sy sak gehaal en haastig die sitplek van sy driewiel gevaarte afgestof. Dit was ’n uitnodiging om van sy “very good taxi service” gebruik te maak. Na ’n ligte gekibbel oor die vervoertarief het ons niksvermoedend, agter in sy geel TUK-TUK ingewurm en soos sardines in ’n blik, gewag dat hy ons neem na die mark soos afgespreek.
Die volgende paar minute het die tropiese kleur van die see en die reuk van kokosneut en frangipani bloeisels soos mis voor die son verdwyn. My lewe het voor my afgespeel . . .
Die geel gevaarte het met ’n gebrul weggetrek en Phan het sonder om enige verkeersreëls te volg, met die spoed van wit lig tussen busse, motorfietse en Taiwanese straat-brakke deurvleg. Ons is oor sypaadjies, deur slaggate en teen een rigtings op . . .
Na die nagmerrie-ondervinding het ons uiteindelik die mark gehaal, maar ons moes ’n paar ure later weer terug hotel toe. Ons het planne beraam om sonder ’n TUK-TUK oor die weg te kom, maar Phan was ons beste opsie en om eerlik te wees het die ander taxi nie veel veiliger gelyk nie.
Teen die derde dag, het my senuwees kalmeer en het ek vrede gesluit met Phuket se enigste verkeersreël, naamlik dat daar geen reëls is nie!
Ek het gebid vir ’n leërskare engele en met hope geloof en bietjie waansin het ons die res van die vakansie in Phan se TUK-TUK oorleef.
Die laaste oggend in Phuket kom groet Phan ons, met ’n vriendelike skrefiesoog vroutjie aan sy sy. Hy stel haar voor as “Dtaan”. Hy verduidelik dat haar naam “Palm” beteken en op die vraag hoekom sy ’n boom se naam het, antwoord hy met blink oë en groot handgebare:
Die palmboom, is ’n wonderlike en heilige plant. Hy is baie buigbaar en kan in sterk wind, ombuig tot hy die grond raak sonder om te breek! Die boom staan altyd weer op na die storm en groei dan ekstra mooi omdat hy dankbaar is . . .
Lank nadat ek Thailand se stof van my skoene afgeskud het, onthou ek nog die Phan se verduideliking van die palmboom.
Ek lees dat ’n Palmboom tot vyf ure van orkaan sterk wind kan oorleef. Volgens bioloë word ’n palm se wortelstelsel in werklikheid versterk deur so ’n storm. In die maande na die storm groei die boom ook dubbel so vinnig as voor die tyd.
In die Woord vergelyk God ons nie met ’n magtige Eik of die majestueuse Denneboom nie, maar juis met die palmboom, met sy dun buigbare stam.
Ps. 92:12 sê dit duidelik: Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome.
Somtyds is die lewe soos ’n rit in Phan se buite beheer TUK-TUK. Jy sit soos ’n sardine in visblik, tussen ’n knop en ’n harde plek met min tot geen opsies.
Dis dan die tyd my liewe reisgenote om te bid vir ’n leërskare engele, en om met baie geloof, en bietjie waansin, vas te klou vir lewe en dood, want nie lank van nou af nie is dit ’n storie om te vertel. ’n Avontuur, ’n merkie op jou kerfstok. Iets wat jy oorleef het en net soos ’n palmboom na ’n stormweer regop kom en met mening groei omdat hy dankbaar is volgens Phan. Net so sal ons weer opstaan en sterker wees as tevore en met die reuk van dankbaarheid en ’n skatkis vol opwindende verhale sal ons dubbel so vinnig groei, nes hoë Seders op die Libanon
Here
Dankie, dat U soveel veerkrag in ons ingebou het. U ken ons breekpunt, maar ook ons groeipunt. Dra ons van krag tot krag!
Amen
No comments:
Post a Comment