Thursday, 18 April 2013

Die geel gevaarte

Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon. (Ps. 92:13)
In Suid-Afrika is ons redelik gewoond aan onverskillige bestuurders, of so het ek gedink tot ek in Phan se TUK-TUK beland het in Thailand.
Op ’n tropiese middag, in die hoof straatjie van die dorpie Patong, op die eiland Phuket, het ons vir Phan ontmoet.
Hy het met skrefies oë en ’n breë glimlag gegroet, ’n lappie uit sy sak gehaal en haastig die sitplek van sy driewiel gevaarte afgestof.  Dit was ’n uitnodiging om van sy “very good taxi service” gebruik te maak.  Na ’n ligte gekibbel oor die vervoertarief het ons niksvermoedend, agter in sy geel TUK-TUK ingewurm en soos sardines in ’n blik, gewag dat hy ons neem na die mark soos afgespreek.
Die volgende paar minute het die tropiese kleur van die see en die reuk van kokosneut en frangipani bloeisels soos mis voor die son verdwyn. My lewe het voor my afgespeel . . .  
Die geel gevaarte het met ’n gebrul weggetrek en Phan het sonder om enige verkeersreëls te volg,  met die spoed van wit lig tussen busse, motorfietse en Taiwanese straat-brakke deurvleg. Ons is oor sypaadjies, deur slaggate en teen een rigtings op . . . 
Na die nagmerrie-ondervinding het ons uiteindelik die mark gehaal, maar ons moes ’n paar ure later weer terug hotel toe.  Ons het planne beraam om sonder ’n TUK-TUK oor die weg te kom, maar Phan was ons beste opsie en om eerlik te wees het die ander taxi nie veel veiliger gelyk nie.
 Teen die derde dag, het my senuwees kalmeer en het ek vrede gesluit met  Phuket se enigste verkeersreël, naamlik dat daar geen reëls is nie!
Ek het gebid vir ’n leërskare engele en met hope geloof en bietjie waansin het ons die res van die vakansie in Phan se TUK-TUK oorleef.
 Die laaste oggend in Phuket  kom groet Phan ons,  met ’n  vriendelike skrefiesoog vroutjie aan sy sy.  Hy stel haar voor as “Dtaan”.  Hy verduidelik dat haar naam “Palm” beteken en op die vraag hoekom sy ’n boom se naam het, antwoord hy met blink oë en groot handgebare: 
Die palmboom, is ’n wonderlike en heilige plant.  Hy is baie buigbaar en kan in sterk wind, ombuig tot hy die grond raak sonder om te breek!  Die boom staan altyd weer op na die storm en groei dan ekstra mooi omdat hy dankbaar is . . .
Lank nadat ek Thailand se stof van my skoene afgeskud het, onthou ek nog die Phan se verduideliking van die palmboom. 
Ek lees dat ’n Palmboom tot vyf ure van orkaan sterk wind kan oorleef. Volgens bioloë word ’n palm se wortelstelsel in werklikheid versterk deur so ’n storm.  In die maande na die storm groei die boom ook dubbel so vinnig as voor die tyd.
In die Woord vergelyk God ons nie met ’n magtige Eik of die majestueuse Denneboom nie, maar juis met die palmboom, met sy dun buigbare stam.
Ps. 92:12 sê dit duidelik:  Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome.
Somtyds is die lewe soos ’n rit in Phan se  buite beheer TUK-TUK.  Jy sit soos ’n sardine in visblik, tussen ’n knop en ’n harde plek met min tot geen opsies.
Dis dan die tyd my liewe reisgenote om te bid vir ’n leërskare engele, en om met baie geloof, en bietjie waansin, vas te klou vir lewe en dood, want nie lank van nou af nie is dit ’n storie om te vertel. ’n Avontuur, ’n merkie op jou kerfstok. Iets wat jy oorleef het en net soos ’n palmboom na ’n stormweer regop kom en met mening groei omdat hy dankbaar is volgens Phan.  Net so sal ons weer opstaan en sterker wees as tevore en met die reuk van dankbaarheid en ’n skatkis vol opwindende verhale sal ons dubbel so vinnig groei, nes hoë Seders op die Libanon
Here
Dankie, dat U soveel veerkrag in ons ingebou het.  U ken ons breekpunt, maar ook ons groeipunt.  Dra ons van krag tot krag!

Amen

Dorings

Ek parkeer, soos elke week-middag onder die reuse ou akkerboom voor die kinders se skool. 
Terwyl ek vir die klok wag, dwarrel die eerste oranje blaar deur die lug en land op my windskerm. Herfs is hier!
Die oggende is reeds koeler en die sonlig ure korter,  Herfs beteken ook die begin van ons reënseisoen en so saam met die oranje blaar val ons eerste reënbui net voor sononder.
Die reën is vinnig oor en die laaste bietjie son druk deur die wolkbank en baai die landskap voor ons huis in ’n misterieuse koper gloed.
Dis so asemrowend dat ons gesin gou strand toe stap om te deel in ’n bietjie van die mooi.
Nadat ons gekyk het hoe die son in skakerings van koper in die see verdwyn, stap ons terug huis toe.
Ons dogtertjie hardloop kaalvoet vooruit en trap in ’n groot bos dorings.  Sy sit so keel op dat my man vinnig nader draf, haar in sy arms optel en haar tot by die stoep dra.  Daar vee hy haar trane af en  trek  versigtig al die dorings uit haar voetjies.
Paulus skryf in  2 Kor. 12:7-8  van ’n doring in sy vlees. Hy skryf hoe hierdie doring sy lewe versier en hoe hy drie maal vir die Here gevra het om die doring weg te vat.
Die Here antwoord egter nie vir Paulus op die manier waarvoor hy gevra het nie.  Die Here antwoord hom met die volgende woorde :
“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.  Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees” 2 Kor. 12:9
Net soos wat my man, hardloop om ons dogtertjie uit die dorings te help, so maak God ook met ons. 
Hy snel ons te hulp en al neem Hy nie altyd die dorings weg nie, doen Hy iets veel beter, Hy dra ons met dorings en al.  Hy neem ons na ’n veilige plek, waar ons die gesig van Sy genade leer ken.  Waar Hy ons trane afdroog en ons leer dat Sy krag ons beskutting is.
As ’n aardse pappa, hardloop om sy kind uit die dorings op te tel, hoeveel te meer sal ons Skepper God dit nie doen nie. 
Hy het reeds voor die begin van tyd oor ons gedroom, ons met presiesheid in ons moeder se skoot aanmekaar geweef. 
Hy het Sy eie seun gestuur om met ’n doringkroon op sy kop te sterf, sodat ons kaalvoet en sonder vrees deur die lewe kan loop!

Here,
Dankie, vir U Woord.  Dankie, vir seisoene, reën, ’n koper son-sak en ’n herfsblaar op ’n windskerm, wat ons elke oomblik herinner aan U teenwoordigheid, U goedheid en U almag! Dankie, dat ons nooit alleen is nie, maar dat U ons altyd styf vashou terwyl U ons deur die dorings dra.
Amen!


Saturday, 13 April 2013

Lewe

We do not remember the days we remember the moments . . .
Dis Maandagoggend.  Die kelner sit ’n perfekte cappuccino voor my neer en ek vou dankbaar my hande om die warm koppie.  Ons sit in ’n Italiaanse restourantjie in Wilderness.  Die bitter reuk van geroosterde koffiebone hang in die lug en dit meng met die souterige seemis wat nog laag oor die dorpie hang.  Die restourantjie is klein en gesellig.  Teen die mure is daar ou swart-en-wit-foto’s van mense wat spaghetti eet, blikke vol ingelegde tamaties en rakke vol droë pasta.  Die kole gloei rooi in die bek van die pizza oond.  Teen die muur tussen die foto’s en bont bordjies staan die volgende woorde:  We do not remember the days, we remember the moments . . .
Ons kuier saam met kosbare vriend wat ryk is in jare en wysheid.  Ons luister meer as wat ons praat en ek verkyk my aan die die rustigheid en tevredenheid van die twee mense wat oorkant ons sit.  Die lyne op hulle gesigte vertel van jare se emosie, van sonskyn en reën, vanaf-en-opdraandes, van mislukkings en oorwinnings. Terwyl ons kuier, is dit die volgende woorde wat my hart raak.
 “Sommige mense soek hulle lewe lank na hulle skeppings doel.  Die lewe het ons geleer, doen wat jou hand vind om te doen en doen dit goed!”
Dit herinner my aan ’n plantjie in die Saharawoestyn wat sy hele lewe in een dag lewe.  Sodra die saadjie ’n bietjie water kry, bot dit en maak ’n stingel, kry blare, maak ’n blom en vorm saadjies,  verlep,  val plat en teen die aand is alles verby  . . .  Tog is die plantjie nie nutteloos nie.  Hy laat ’n voetspoor, wat die voortbestaan van sy spesie verseker. 
Soms spook en spartel ons onsself gedaan om sin te probeer maak van die lewe terwyl dit lyk of dit vir ander sommer self gebeur.
Miskien dink ons te veel oor die lewe en spandeer ons te min tyd by wysheid se voete.
Miskien moet ons meer op Maandag oggende die deurmekaar huis en vol dagboek eenkant toe skuif en belê in ’n uur se saamwees oor ’n beker goedheid. 
Miskien moet ons net elke dag doen wat ons hand vind om te doen en dit goed doen!
Marion Howard skryf die volgende woorde oor die lewe:  Die lewe is soos ’n klein kombersie.  Trek dit tot onder jou ken op, verkluim jou tone;  maak jy jou voete toe, bewe jou skouers en ore weer.  Gelukkig is hulle wat geleer het om hulle knieë op te trek en rustig te slaap.
Mag ons leer om nie die lewe te ernstig op te neem nie, om gereeld te lag en somtyds ons eie reëls te breek. 
Mag ons baie onthou oomblikke bymekaarmaak  sodat  ons eendag kan terugkyk sê:  We do not remember the days we remember the moments . . .
Here,
Dankie, vir die geskenk van die lewe.  Ek bid dat ons die lewe sal voel en ruik en proe en lewe en dat ons ’n voetspoor sal los wat U naam  verheerlik.
Amen!

Tuesday, 9 April 2013

Kleipotte

As hoop nie in ons oor gefluister het dat môre beter sal wees nie, hoe sou enigeen die moed hê om deur vandag te kom?  Robert Burns
Onder normale omstandighede sou ons seker nooit vriendinne gewees het nie.  Ons ouderdom, belangstellings en die seisoene in ons lewens is so uiteenlopend, maar op ’n wonderbaarlike manier bevind ons, onsself ’n paar oggende ’n week in mekaar se geselskap. 
Dis in die uurtjie, gewoonlik koponderstebo of op die naat van jou rug, in die callanetics  klas waar ons mekaar raak leef.  Hier lag ons oor ons flaters, gesels ons oor die nuutste fliek, die beste boek, die lekkerste restaurant. Ons stort ’n traan oor ’n egskeiding, word kwaad oor die swak regsisteem en verskil oor baie dinge.
Dis een Vrydagoggend na klas waar ons soos een man met ’n bos blomme opdaag by ’n koffiewinkel.  Vanoggend kom ondersteun ons ’n Callanetics-maatjie voor haar eerste bestraling. Sy sit met haar hart in haar hande, terwyl sy eerlik en reguit praat oor die vyand in haar, oor haar vrees vir die onbekende en die hoop op herstel.
Paulus skryf in Korintiërs die volgende:
 2 Korintiërs 4:7-9 ““Al is God by my, is ek maar net ‘n doodgewone mens. Ek is soos ‘n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ‘n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel: Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op.” (Die Boodskap)

Waar is jy vandag?  Is jou kleipot vol krake of lê hy reeds in skerwe?
Paulus se woorde gee my vandag hoop vir my vriendin met kanker, dit gee my hoop vir vrouens met leë arms, stukkende huwelike en onbeheerbare tieners.  Dit maak my opgewonde oor ’n onbreekbare skat wat nie deur die verganklikheid van hierdie wêreld geraak word nie.  ’n skat wat ons help om kop bo water te hou al lyk die toekoms donker, ’n skat wat ons elke keer weer laat opstaan al is ons nerwe deur geval!
Mag ons die groot krag van God wat in Paulus gewerk het, ook in ons lewens ervaar.  Mag ons ook baklei teen mismoedigheid en radeloosheid en weet dat God ons nooit alleen los nie.  Mag ons altyd onthou daar is ’n  waardevolle en kragtige skat in ons!
Here
U liefde gaan ons verstand te bowe!  Dankie, vir die baie waardevolle skat binne ons.  Leer ons om daarvan bewus te wees en die te bewaar en te bewonder!
Amen

Ankers

Heb 6:19 - “Om God so te vertrou is soos ‘n geestelike anker. Dit gee ons lewe vastigheid en sekerheid. Dit verbind ons ook direk met God...”  (Boodskap)

’n Spesie word geklassifiseer as iets met dieselfde eienskappe.

In Suid-Afrika spog ons met baie verskillende spesie mense. Daar is vissermanne, rugby-ondersteuners, motorfiets ryers, gholfspelers, perde liefhebbers, fietsryers, drawwers en nog baie meer.

Ons gesin is deel van die kampers; wat ’n eienaardige, wonderlike spesie!  ’n Kampterrein is seker die enigste plek ter wêreld waar mens met ’n toiletrol onder jou arm en 100% selfvertroue kennis maak met die bure. 
Dis op ’n sonnige windstil middag wat ons met ons karavaan in Jeffreysbaai stilhou.  Ons het die perfekte staanplek, nie te naby aan die see nie, genoeg skaduwee, naby ’n kraan, goeie braaiplek en net ’n  hanetreetjie van die badkamer.
’n Vriendelik swart man kom nader gestap, hy stel homself voor met ’n lang moeilike naam en ons besluit sommer hy is Mopo. Mopo is ’n kamp engel.  Hy sorteer pale, knoop toue, kap penne en vat raak! Binne ’n rekordtyd staan ons tent.
Mopo loer egter die hele tyd na die blou wolkbank wat op die horison hang.  Toe die tent staan, loer hy weer vir die wolke, fluit saggies tussen sy tande deur,  praat lang sinne binne-in sy mond, en toe begin hy soos ’n spinnekop ’n web bou.  Heen-en-weer- maak hy toue en nette en bande kruis en dwars  bo-oor die tent vas.  Hy anker ons so vas dat ek nie weet hoe ons ooit weer gaan loskom nie.
Daardie aand breek die moeder van alle storms los, maar Mopo se spinnerak hou ons geanker!

God se woord is  vol ankers.  Die eerste en grootste anker is dat God ’n waarmaker van Sy woord is.  Hy kan nie lieg nie.  Die Bybel is in alle opsigte waar.  Ons kan staan op die belofte in Jes. 55:11:

“...so sal My woord wees wat uit my mond uitgaan; dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur”  

Nog ’n anker is gebed.  Hiskia het hierdie anker gebruik (toe hy besig was om te sterf) en God het hom 15 jaar langer laat leef. (Lees 2 Kon. 20)
Die derde anker is hoop. Daar is ’n Franse spreekwoord wat sê: hoop is die arm man se brood.  Die Woord sê die volgende oor hoop:
Heb. 6:18: “Ons moet vas hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel...” 
Die oggend na die storm was die kampterrein ’n  slagveld!  Mense se tente is geskeur, pale is gebuig en verniel, asblikke het omgewaai en rommel lê die wêreld vol.  Net die kampers wat op die regte manier geanker was, het sonder skade die storm oorleef.
Is dit nie wonderlik om te weet ons het ’n  anker nie.  Al waai die wind ons bang, is ons geanker in hoop, gebed en bo alles God se woord.

Here,
Dankie dat U ons anker is.  Sonder U kan ons nie eers in die windstil tye oorleef nie.  Help ons om goed voorberei te wees op die storms wat kom, want met U as anker is ons veilig.
Amen!