Wat maak jou tiek?
Johannes 7:37 “. . . . as iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink. Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”
Hi sit op sy vissersbootjie, besig om met kunstige hande aas aan die hoek te sit. Sy oë is vol sterre en hy neurie saggies `n loflied . . . Op die kant van sy boot staan daar “hooked on Jesus”
Op `n koppie, langs `n windpomp staan `n Boer agter op die tralies van sy bakkie. Hy hou sy hand voor sy gesig om die son af te keer. Noukeurig kyk hy sy koeie en kalwers deur. Sy lippe beweeg woordeloos en sy hand gaan onwillekeurig terug na die lang sny op sy bors. Hy prewel saggies, “Dankie Vader”. Op die kant van sy bakkie staan die woorde “`n nuwe hart vir Jesus”
Hy staan in die supermark in `n ry. Onder sy een arm knyp hy die koerant vas, met sy ander hand skuif hy die verdwaalde pond in sy beursie eenkant toe. Hy groet die klerk in Afrikaans, draai om en vra vir die vrou agter hom of dit die nie mooiste taal is wat sy al ooit gehoor het nie. Opgewonde gesels hy verder, vandag gaan ek werk soek, hierdie land het my nodig, se hy trots! Onder sy mou, steek die sierlike letters van Jer. 29:11 uit.
Dissipelskap kom in verskillende vorms. God het ons almal gemaak met `n spesifieke gawe om Sy naam te verheerlik. Party mense sing, ander preek, ander gee, sommige trotseer die wildernis, en so kan die lysie groei. Die vraag is wat maak jou tiek??
Dit waarin jy belang stel, is iets wat God reed voor die grondlegging van die aarde vir jou uitgekies het. Dis heel waarskynlik die sleutel na die plek waar jy vervulling gaan ervaar. Ons maak die fout om Christenskap apart te hou van ons persoonlike lewe. Baie van ons is passievolle oor ons beroep of stokperdjie of verhoudings maar ons hou dit apart van ons verhouding met God. Ons maak die dinge van die Here, hoogdrawend en ernstig en ingewikkeld en op die ou einde raak ons moeg en gee moed op.
Die waarheid is, as ons vol is van Jesus, kan ons nie sleepvoet lewe nie. Dan kan ons nie Jesus skei van wie ons is, waar ons werk of met wie ons kuier nie. Johannes 7:37 -39 praat van die strome van lewende water wat uit ons binneste sal vloei! Dit praat nie van `n paar druppels of `n lui stroompie nie. Strome sal vloei!! Water wat vinnig vloei maak `n geraas, dit maak die aarde nat en saadjies ontkiem en plante groei en daar is lewe!!
Here
Ons is so dors! Maak ons vol met die lewende water, sodat ons waardige dissipels in hierdie wêreld kan wees. Dat wanneer mense na ons kyk, hulle sal sal smag na die vreugde en vervulling waarvan ons lewe spreek. Maak ons passievol en positiewe en produktief in U Koninkryk!
No comments:
Post a Comment