Sigbare beloftes
Die Here het vir Abram buitetoe geneem en vir hom gesê: "Kyk na die lug en probeer om al die sterre te tel. Jou nageslag sal so baie wees." Gen. 15:5
Dit was ’n asemrowende aand in die bosveld. Die laaste skakerings van die diep oranje het nog aan die horison geleef. Die Bosveldvuur het geknetter en die reuk van Afrika was in die lug. Ons seuntjie was so vier jaar oud en hy het in die gloed van die vuur gesit en speel. Hy het agteroor gaan lê en hom vergaap aan die sterre wat een vir een aan die hemel begin verskyn het. Toe dit pik donker word, het hy opgestaan en na die eienaar van die plaas gestap en gevra: “Oom Len, hoekom bederf Jesus jou so? Kyk net al hierdie sterre op jou plaas! Jesus is seker baie lief vir jou!”
Daar het ’n heilige stilte om die vuur neergedaal en vir ’n oomblik het ons deur ’n kind se oë gesien hoe Jesus se liefde en die skepping hande vat . . .
Ons lees in Gen. 15:5- 6 - Die Here het vir Abram buitetoe geneem en vir hom gesê: "Kyk na die lug en probeer om al die sterre te tel. Jou nageslag sal so baie wees." Abram het die Here geglo en daarom was die Here tevrede met hom.
Die Here gebruik nie ’n pen en papier, ’n kontrak of ’n rare verskynsel om met Abram te praat nie, God gebruik iets wat bekend is aan Abram. In die vorige hoofstuk lees ons dat Abram en sy soldate in die nag oorlog gemaak het, m.a.w. Abram was gereeld in die nag buite. Hy was vertroud met oneindige grootheid van die ster besaaide hemelruim. God gee vir hom ’n prentjie waarna hy elke aand kan opkyk as die twyfel oor God se belofte aan hom knaag.
Het jy ’n prentjie van ’n belofte van God waaraan jy vashou?
In ons tuin is daar ’n melkhoutboom, wat vreeslik blare mors, maar so nou en dan tel die kinders ’n hartvormige blaartjie op. Hulle het eenparig besluit dat dit Jesus se manier is om vir ons te sê Hy is lief vir ons.
So praat God ook met ons vandag, nie net deur die Woord nie maar ook deur musiek of ’n blaartjie op die gras of ’n seuntjie langs ’n vuur. Ons dien ’n God van detail wat duisende jare terug reeds die skare met prentjies en stories geleer het. Ons moet net ons oë oopmaak en begin sien!
Mag jy God se beloftes in jou lewe tasbaar ervaar en mag jy opkyk na die miljoene sterre en iets ervaar van die Koning van die heelal se liefde vir jou.
Here,
Raak ons oë aan en laat ons weer na die wêreld kyk soos kinders! Dankie vir soveel beloftes in U woord. Dankie dat U ’n God van detail is en dat U net soos met Abram ook met ons kommunikeer deur U skepping. Dankie, vir die Afrika-son en reënboë en kosmosse en soveel skoonheid uit U hand. Boweal dankie dat ons die kroon van U skepping is.
Amen
No comments:
Post a Comment