Thursday, 24 January 2013

Jesus red . . .

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Hand 1:8

 

Lawaaikamp is ’n woonbuurt in die buitewyke van George.  Vanaf die N1 snelweg kyk mens af op die laslappie woonbuurt wat bestaan uit ’n mengelmoes van sinkplaat, kartondoos en oorskiet boumateriaal.  Die meeste erwe spog met ’n pampoenrank, ’n ry mielies en hier en daar sien jy selfs ’n hoender.
In Lawaaikamp is daar egter een erf wat uitstaan bo die ander.  Daar staan ’n netjiese wit karavaantjie met sy wiele in die rommel.  Op sy kant is daar ’n groot rooi kruis geplak met die volgende woorde :  Jesus red/ Jesus saves/ Uyesu uya sisindisa.
In hierdie karavaan woon Elsie.  Ek ontmoet haar oor ’n slap draadheining. Sy was dakloos en het nie ’n sent op haar naam gehad nie.  Haar werkgewer het tot haar redding gekom en vir haar hierdie karavaan gekoop by ’n kerk.  Elsie het besluit om die woorde op die karavaan net so te los met die idee dat dit ’n getuienis sal wees van dit wat die Here vir haar gedoen het.  Elsie vertel dat daar gereeld mense op die snelweg stop om foto’s te neem van haar huisie op wiele.  Sy het selfs al gesien dat ’n man uit sy motor klim en in die teerpad op sy knieë staan en bid.
Na ’n lekker kuiertjie met Elsie, groet sy met die volgende woorde:  “mevroutjie, ek glo ’n mens moet doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy is, dit laat die Here smile.”
Wat ’n getuienis?   
Jesus het saam met die dissipels rondom ’n tafel sit en eet toe Hy die volgende woorde sê: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”  Hand 1:8     
Dissipelskap en getuienis loop hand aan hand.  Jy kan nie ’n dissipel wees sonder om te getuig nie.  Jou getuienis is soveel meer as woorde, dis jou opstaan en gaan slaap, dis ’n stukkie van jou lewens storie.
Somtyds is ons skaam oor ons getuienis.  Omdat God se liefde ons so verander het, is dit moeilik om terug te dink aan die moeilike tye in ons lewe.  Dis erg om te erken hoe verlore ons was en te erken hoe verkeerd ons gelewe het.
Ek glo dat die plek in ons lewe waar ons gebrokenheid, tekort of teleurstelling ervaar het, juis die plek is waar mens ’n kragdadige getuie kan wees vir ’n honger wêreld daar buite.
Kyk na Elsie.  Haar getuienis weergalm, dat Jesus red.  Sy was dakloos en vandag woon sy in haar getuienis en haar getuienis woon in haar. Sy ervaar elke dag dat die Here haar getuienis kragdadig gebruik. Haar bereidheid om te doen wat sy kan, met wat sy het waar sy is, maak van haar ’n dissipel soos min en dit laat die Here smile!
Hoe lyk jou getuienis en is jy bereid om dit te deel? 

Here
Ek bid vandag dat ons die skoene van bereidheid aan ons voete sal sit. Here steek weer die vuur in ons harte aan om te getuig en maak ons getuienis so kragdadig dat dit tot in die uithoeke van die aarde mens se lewens sal aanraak.
Amen






 




No comments:

Post a Comment