Sunday, 27 January 2013

Hoe saai jy?
Galasiërs 6:7 ...net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

Ek onthou so goed as kind  hoe my pa met afwagting die weer dopgehou het.  Die ryp het soms nog dik op die gras gelê, dan het hy al gewoeker om sy trekkers en implemente agter mekaar te kry vir die seisoen. Die beplanning is gedoen en daar is reeds besluit watter saad in watter land geplant gaan word.  Die saad was gekoop en die kunsmis was gereed vir die dag as die reën kom.
Ek onthou  die opgewondenheid as die donker wolke op die horison begin saampak het, die gedreun van die weer en die wonderlike gesig wanneer die eerste vet reëndruppels in die stof neerplof .  Ek onthou die geluid van die reëndruppels op ons sinkdak en die reuk van lewe in my neusgate.
Na ʼn paar weke se dag en nag werk, was die saad in die grond.  Wanneer die groen plantjies dan in rye in die land begin wys, kon my pa duidelik sien waar die planter gemis het.  ʼn Werker het dan met ʼn emmer vol saadjies geloop en die mis-rye oorgeplant om te verseker dat die land sy volle potensiaal oplewer.
Gal 6:7 “…net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.
Hierdie beginsel is van toepassing op alle aspekte van mens se lewe.  Dit laat mens onwillekeurig dink aan die plekke in mens se lewe waar daar ʼn tekort of ʼn leemte is.  Miskien is dit finansies of die behoefte aan ʼn goeie vriend of ʼn lewensmaat.  Miskien is dit mooi woorde of kwaliteit tyd saam met jou geliefdes.  Die beginsel bly staan wat jy insit sal jy uitkry.
Miskien voel jy dat jy op ʼn plek is waar jy geen saad het om te saai nie.  Volgens 2 Kor. 9:10 is dit die Here wat saad verskaf aan die saaier. Wat jy het kom van Hom.  Dit beteken dat ons vir God kan vra om aan ons saad te gee sodat ons kan saai en kan oes en oorvloed kan hê.
Mag jy maklik die mis rye in jou lewe raaksien en moeite doen om saadjies daar te plant, sodat jou lewens land sy volle potensiaal kan bereik.

Here,
dankie dat U ons onvoorwaardelik lief het.  Help ons om die lande waar ons moet saai reg te kies.  Seen asb. ons saad, Here dat dit ʼn bo-natuurlik oes sal lewer waarvoor U die eer sal kry.

Amen

No comments:

Post a Comment