Thursday, 31 January 2013

Kunsmis vir die siel



Gal 5:22 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Dis ’n  seepgladde oggend.  Die lug is kristal helder, al die robotte werk en ek kry parkering reg voor die skool. Binne ’n rekordtyd is die kinders afgelaai en is ek tuis.  Met die bietjie ekstra tyd, skop ek my skoene uit en stap oor die duin tot op die strand.
Die see is vanoggend ’n tropiese blou en die sand is koel onder my voete.  Sasha, ons hondjie jaag ’n seemeeu wat ongeërg ’n paar treë vêrder land.  Ek wonder hoekom ek nie meer tyd maak hiervoor nie.

’n mistigheid skuif voor die son in en binne ’n paar minute is dit bewolk.  Die see verander soos ’n reuse verkleurmannetjie en waar die son deur die wolke breek, maak dit lang ligstrepe op die water.  Dis so asemrowend mooi dat ek bang is om te beweeg en die oomblik te mis.  Die wolke word nog donkerder en sagte druppels begin neersif. Nog voordat ek kan opstaan skuif die reënwolk verby en loer die son warm deur die wolke . . .
Hoekom is ons so besig? Nêrens in die Bybel sê die Here vir ons om besig te wees nie.  In Gen. 35:11 gee God vir ons die volgende opdrag “ . . wees vrugbaar, vermeerder en vul die aarde”.  Om vrugbaar te wees, beteken nie net om voort te plant nie maar om vrug te dra.

Joyce Meyer vertel dat haar lewe buite beheer besig was, so erg dat sy haar bediening wou kleiner maak.  Sy het gaan sit en ’n lys gemaak van al die aktiwiteite waarmee sy so besig was. Sy het by elke aktiwiteit vir haarself gevra wat die rede was hoekom sy dit doen.  Sy was verbaas oor hoeveel dinge sy doen, net om ander mense tevrede te stel of omdat die “wêreld” dit vereis.  Sy het baie aktiwiteite gelos en sodoende ’n paar baie ongelukkige mense rondom haar gehad, maar haar lewe was weer binne beheer en sy kon op die regte plekke ’n verskil maak.
’n  Goeie vrugteboer snoei elke jaar sy bome, sodoende raak hy ontslae van nuttelose takke wat nie vrugte dra nie. Hoe lyk jou lewe, dra jy vrug of is jy ’n boom vol dooie takke? 

Miskien is dit tyd om soos Joyce, voorraadopname te maak van ons lewe.  Om weer bietjie die dooie takke wat nie vrugte dra nie te snoei.
Dis dan soveel makliker om tyd te maak om te verdwaal in God se asemrowende skepping, om Hom te sien in die wolke en te voel in die reëndruppels en net weer kunsmis te kry vir jou siel.

Here

Ons lewe in ’n dol wêreld.  Leer ons om rentmeesters te wees van ons tyd. Help ons  om die dooie dinge in ons lewe te identifiseer en dit te vervang met iets wat ’n verkil maak.

Amen





Tuesday, 29 January 2013

Sigbare beloftes

Die Here het vir Abram buitetoe geneem en vir hom gesê: "Kyk na die lug en probeer om al die sterre te tel.   Jou nageslag sal so baie wees."  Gen. 15:5

Dit was ’n asemrowende aand in die bosveld.  Die laaste skakerings van die diep oranje het nog aan die horison geleef.   Die Bosveldvuur het geknetter en die reuk van Afrika was in die lug.  Ons seuntjie was so vier jaar oud en hy het in die gloed van die vuur gesit en speel.  Hy het agteroor gaan lê en hom vergaap aan die sterre wat een vir een aan die hemel begin verskyn het.  Toe dit pik donker word, het hy opgestaan en na die eienaar van die plaas gestap en gevra:  “Oom Len, hoekom bederf Jesus jou so?  Kyk net al hierdie sterre op jou plaas!  Jesus is seker baie lief vir jou!”
Daar het ’n heilige stilte om die vuur neergedaal en vir ’n oomblik het ons deur ’n kind se oë gesien hoe Jesus se liefde en die skepping hande vat . . .
Ons lees in Gen. 15:5- 6 - Die Here het vir Abram buitetoe geneem en vir hom gesê: "Kyk na die lug en probeer om al die sterre te tel.  Jou nageslag sal so baie wees."   Abram het die Here geglo en daarom was die Here tevrede met hom.

Die Here gebruik nie ’n pen en papier, ’n kontrak of ’n rare verskynsel om met Abram te praat nie, God gebruik iets wat bekend is aan Abram.  In die vorige hoofstuk lees ons dat Abram en sy soldate in die nag  oorlog gemaak het, m.a.w. Abram was gereeld in die nag buite.  Hy was vertroud met oneindige grootheid van die ster besaaide hemelruim.  God gee vir hom ’n prentjie waarna hy elke aand kan opkyk as die twyfel oor God se belofte aan hom knaag.

Het jy ’n prentjie van ’n belofte van God waaraan jy vashou?

In ons tuin is daar ’n melkhoutboom, wat vreeslik blare mors, maar so nou en dan tel die kinders ’n hartvormige blaartjie op. Hulle het eenparig besluit dat dit Jesus se manier is om vir ons te sê Hy is lief vir ons.
So praat God ook met ons vandag, nie net deur die Woord nie maar ook deur musiek of ’n blaartjie op die gras of ’n seuntjie langs ’n vuur. Ons dien ’n God van detail wat duisende jare terug reeds die skare met prentjies en stories geleer het. Ons moet net ons oë oopmaak en begin sien!
Mag jy God se beloftes in jou lewe tasbaar ervaar en mag jy opkyk na die miljoene sterre en iets ervaar van die Koning van die heelal se liefde vir jou.

Here,

Raak ons oë aan en laat ons weer na die wêreld kyk soos kinders! Dankie vir soveel beloftes in U woord.  Dankie dat U ’n God van detail is en dat U net soos met Abram ook met ons kommunikeer deur  U skepping.   Dankie, vir die Afrika-son en reënboë en kosmosse en soveel skoonheid uit U hand.  Boweal dankie dat ons die kroon van U skepping is.

Amen

Sunday, 27 January 2013

Hoe saai jy?
Galasiërs 6:7 ...net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

Ek onthou so goed as kind  hoe my pa met afwagting die weer dopgehou het.  Die ryp het soms nog dik op die gras gelê, dan het hy al gewoeker om sy trekkers en implemente agter mekaar te kry vir die seisoen. Die beplanning is gedoen en daar is reeds besluit watter saad in watter land geplant gaan word.  Die saad was gekoop en die kunsmis was gereed vir die dag as die reën kom.
Ek onthou  die opgewondenheid as die donker wolke op die horison begin saampak het, die gedreun van die weer en die wonderlike gesig wanneer die eerste vet reëndruppels in die stof neerplof .  Ek onthou die geluid van die reëndruppels op ons sinkdak en die reuk van lewe in my neusgate.
Na ʼn paar weke se dag en nag werk, was die saad in die grond.  Wanneer die groen plantjies dan in rye in die land begin wys, kon my pa duidelik sien waar die planter gemis het.  ʼn Werker het dan met ʼn emmer vol saadjies geloop en die mis-rye oorgeplant om te verseker dat die land sy volle potensiaal oplewer.
Gal 6:7 “…net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.
Hierdie beginsel is van toepassing op alle aspekte van mens se lewe.  Dit laat mens onwillekeurig dink aan die plekke in mens se lewe waar daar ʼn tekort of ʼn leemte is.  Miskien is dit finansies of die behoefte aan ʼn goeie vriend of ʼn lewensmaat.  Miskien is dit mooi woorde of kwaliteit tyd saam met jou geliefdes.  Die beginsel bly staan wat jy insit sal jy uitkry.
Miskien voel jy dat jy op ʼn plek is waar jy geen saad het om te saai nie.  Volgens 2 Kor. 9:10 is dit die Here wat saad verskaf aan die saaier. Wat jy het kom van Hom.  Dit beteken dat ons vir God kan vra om aan ons saad te gee sodat ons kan saai en kan oes en oorvloed kan hê.
Mag jy maklik die mis rye in jou lewe raaksien en moeite doen om saadjies daar te plant, sodat jou lewens land sy volle potensiaal kan bereik.

Here,
dankie dat U ons onvoorwaardelik lief het.  Help ons om die lande waar ons moet saai reg te kies.  Seen asb. ons saad, Here dat dit ʼn bo-natuurlik oes sal lewer waarvoor U die eer sal kry.

Amen

Thursday, 24 January 2013

Jesus red . . .

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Hand 1:8

 

Lawaaikamp is ’n woonbuurt in die buitewyke van George.  Vanaf die N1 snelweg kyk mens af op die laslappie woonbuurt wat bestaan uit ’n mengelmoes van sinkplaat, kartondoos en oorskiet boumateriaal.  Die meeste erwe spog met ’n pampoenrank, ’n ry mielies en hier en daar sien jy selfs ’n hoender.
In Lawaaikamp is daar egter een erf wat uitstaan bo die ander.  Daar staan ’n netjiese wit karavaantjie met sy wiele in die rommel.  Op sy kant is daar ’n groot rooi kruis geplak met die volgende woorde :  Jesus red/ Jesus saves/ Uyesu uya sisindisa.
In hierdie karavaan woon Elsie.  Ek ontmoet haar oor ’n slap draadheining. Sy was dakloos en het nie ’n sent op haar naam gehad nie.  Haar werkgewer het tot haar redding gekom en vir haar hierdie karavaan gekoop by ’n kerk.  Elsie het besluit om die woorde op die karavaan net so te los met die idee dat dit ’n getuienis sal wees van dit wat die Here vir haar gedoen het.  Elsie vertel dat daar gereeld mense op die snelweg stop om foto’s te neem van haar huisie op wiele.  Sy het selfs al gesien dat ’n man uit sy motor klim en in die teerpad op sy knieë staan en bid.
Na ’n lekker kuiertjie met Elsie, groet sy met die volgende woorde:  “mevroutjie, ek glo ’n mens moet doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy is, dit laat die Here smile.”
Wat ’n getuienis?   
Jesus het saam met die dissipels rondom ’n tafel sit en eet toe Hy die volgende woorde sê: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”  Hand 1:8     
Dissipelskap en getuienis loop hand aan hand.  Jy kan nie ’n dissipel wees sonder om te getuig nie.  Jou getuienis is soveel meer as woorde, dis jou opstaan en gaan slaap, dis ’n stukkie van jou lewens storie.
Somtyds is ons skaam oor ons getuienis.  Omdat God se liefde ons so verander het, is dit moeilik om terug te dink aan die moeilike tye in ons lewe.  Dis erg om te erken hoe verlore ons was en te erken hoe verkeerd ons gelewe het.
Ek glo dat die plek in ons lewe waar ons gebrokenheid, tekort of teleurstelling ervaar het, juis die plek is waar mens ’n kragdadige getuie kan wees vir ’n honger wêreld daar buite.
Kyk na Elsie.  Haar getuienis weergalm, dat Jesus red.  Sy was dakloos en vandag woon sy in haar getuienis en haar getuienis woon in haar. Sy ervaar elke dag dat die Here haar getuienis kragdadig gebruik. Haar bereidheid om te doen wat sy kan, met wat sy het waar sy is, maak van haar ’n dissipel soos min en dit laat die Here smile!
Hoe lyk jou getuienis en is jy bereid om dit te deel? 

Here
Ek bid vandag dat ons die skoene van bereidheid aan ons voete sal sit. Here steek weer die vuur in ons harte aan om te getuig en maak ons getuienis so kragdadig dat dit tot in die uithoeke van die aarde mens se lewens sal aanraak.
Amen






 




Tuesday, 22 January 2013

Wat maak jou tiek?

Wat maak jou tiek?

Johannes 7:37 “. . . . as iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink.  Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê:  Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Hi sit op sy vissersbootjie, besig om met kunstige hande aas aan die hoek te sit.  Sy oë is vol sterre en hy neurie saggies `n loflied . . .  Op die kant van sy boot staan daar “hooked on Jesus”
Op `n koppie, langs `n windpomp staan `n Boer agter op die tralies van sy bakkie.  Hy hou sy hand voor sy gesig om die son af te keer. Noukeurig kyk hy sy koeie en kalwers deur.  Sy lippe beweeg woordeloos en sy  hand gaan onwillekeurig terug na die lang sny op sy bors.   Hy prewel saggies, “Dankie Vader”.  Op die kant van sy bakkie staan die woorde “`n nuwe hart vir Jesus”
Hy staan in die supermark in `n ry.  Onder sy een arm knyp hy die koerant vas, met sy ander hand skuif hy die verdwaalde pond in sy beursie eenkant toe.    Hy groet die klerk in Afrikaans, draai om en vra vir die vrou agter hom of dit die nie mooiste taal is wat sy al ooit gehoor het nie.  Opgewonde gesels hy verder, vandag gaan ek werk soek, hierdie land het my nodig, se hy trots!  Onder sy mou, steek die sierlike letters van  Jer. 29:11 uit.
Dissipelskap kom in verskillende vorms.  God het ons almal gemaak met `n spesifieke gawe om Sy naam te verheerlik.  Party mense sing, ander preek, ander gee, sommige trotseer die wildernis, en so kan die lysie groei.  Die vraag is wat maak jou tiek??
Dit waarin jy belang stel, is iets wat God reed voor die grondlegging van die aarde vir jou uitgekies het. Dis heel waarskynlik  die sleutel na die plek waar jy vervulling gaan ervaar.  Ons maak die fout om Christenskap apart te hou van ons persoonlike lewe.  Baie van ons is passievolle oor ons beroep of stokperdjie of verhoudings  maar ons hou dit apart van ons verhouding met God. Ons maak die dinge van die Here, hoogdrawend en ernstig en ingewikkeld en op die ou einde raak ons moeg en gee moed op.
Die waarheid is, as ons vol is van Jesus, kan ons nie sleepvoet lewe nie. Dan kan ons nie Jesus skei van wie ons is, waar ons werk of met wie ons kuier  nie.   Johannes 7:37 -39 praat van die strome van lewende water wat uit ons binneste sal vloei!  Dit praat nie van `n paar druppels of `n lui stroompie nie.  Strome sal vloei!!  Water wat vinnig vloei maak `n geraas, dit maak die aarde nat en saadjies ontkiem en plante groei en daar is lewe!!

Here
Ons is so dors! Maak ons vol met die lewende water, sodat ons waardige dissipels in hierdie wêreld kan wees.  Dat wanneer mense na ons kyk, hulle sal sal smag na die vreugde en vervulling waarvan ons lewe spreek. Maak ons passievol en positiewe en produktief in U Koninkryk!

Amen

Sunday, 20 January 2013

Dissipelskap

Johannes 14:12 “… as iemand My vertrou, sal hy dieselfde dinge doen as wat Ek doen, om die waarheid te sê, hy sal baie meer doen . . .”

As iemand jou die vraag vra, wat was die beste dag in jou lewe, het die meeste van ons dadelik 'n lysie.  Mens dink aan jou troudag, of die geboorte van jou baba of 'n spesiale vakansie . Een van die wonderlikste dae in my lewe, was 'n dag in die Drakensberge rondom 'n kampvuur . . .
Ek was 'n standerd 6 dogter.  Ons landloop meneer en sy vrou het ons op 'n landloop toer geneem na Mahai in die Drakensberge.  Mnr Vermeulen was 'n wonderlike mens, hy het sagte bruin oë gehad en dit het altyd gelyk asof hy 'n geheim ken waarvan niemand anders weet nie.  Hy het ons soveel meer geleer as net hoe om 'n goeie atleet te wees.
Ons het ure geloop in die berge, geswem in die ysige waterpoele en gereeld gestop en geleer oor plante en goggatjies.  Hy was bo alles 'n uitgesproke Christen en het altyd van Jesus gepraat asof hy nou net met hom in die veld staan en gesels het.
Een aand rondom die kampvuur het hy begin vertel van Jesus.  Dit was die mooiste gesig wat ek nog ooit gesien het.   Dit het gevoel of sy woorde lewendig word in my hart.  Hy het gevra wie wil saam met hom bid.  Daardie aand het ek Jesus ontvang, in so 'n mate dat ek vandag nog vol hoendervleis is as ek daaraan dink.  Meneer Vermeulen  is vandag by Jesus.  Hy was die eerste ware dissipel wat ek geken het . . .
Wat beteken dit om 'n dissipel te wees?
Dissipelskap beteken leerling.  Jesus het gekom en vir sy 12 dissipels alles kom leer wat die Vader hom gestuur het om hulle te leer.  M.a.w. dit beteken om soos Jesus te dink te praat en te doen.
Kom ons wees eerlik, dit klink heeltemal onmoontlik, maar die skrif se anders in Johannes 14:12  - Die wat in Jesus glo sal nog Groter werke doen as wat Jesus gedoen het
Ons besef nie dat ons geskape is na God se beeld nie. Ons kyk net vas in ons tekortkomings en leen ons ore uit aan die  vyand wat ons  herinner ons aan al ons sonde. Ons ervaar klaar mislukking voordat ons nog probeer het.
Die goeie nuus is daar was 'n kruis en ons sonde het daar agter gebly.  In God se oë is ons perfekte, skoongewaste, duur gekoopte kandidate vir Dissipelskap!
Ons is gereed om volwasse te word, en in liefde dit te doen waarvoor God ons geskape het.
Die mikpunt is dat ons nie babas sal bly nie maar dat ons sal groei van kind van God na Seun van God tot Vader in die geloof vir ander.
Is dit nie dalk tyd om met nuwe oë te kyk na Johannes 14:12 nie?  Is jy bereid om in Jesus te glo en jouself beskikbaar te stel?

Here,

my hart brand vandag soos daai kampvuur in die Drakensberge baie jare terug.  Help my om 'n verskil te maak, om 'n dissipel te word na U hart.  Leer my Here om soos U te dink en te praat en te doen.

Amen