Geskryf deur Rosa Duvenhage Dit is die Here wat die wolke vol water maak sodat dit hard kan reën. Dit is Hy wat reën gee vir die plante in die veld. (Sag 10:1)
In die boeregemeenskap waar ek grootgeword het, is daar een woord wat ’n glimlag na elke bruingebrande, stoppelbaard-gesig bring, en dis reën!
Ek onthou hoe my pa in geloof, laatmiddag na die wolke gekyk het. Hy het dan alles wat moontlik kon natreën onder dak getrek. Baie keer het die weer verby getrek of die wind het die wolke weggewaai, maar wanneer die reën dan uiteindelik kom, was daar verligting en dankbaarheid.
Vir ons as kinders, het die reën ’n heel ander betekenis ingehou. Ons het geweet na ’n laatmiddag donderstorm verander ons gewone speelplekke rondom die huis in `n avontuur baan. Terwyl jy jou oudste klere aan pluk om ’n botsing met die gereg te voorkom, hol jy solank vir jou fiets! Elke liewe holte in die stofpad het verander in ’n moddergat en die stroompie langs die bos, in ’n rivier.
Die hoogtepunt van elke laatmiddag storm was egter die rysmiere! Na so reënbui borrel duisende rysmiere by piepklein gaatjies in die grond uit. Hulle styg in groot wolke op en verander die omgewing in ’n oorlogsveld. Dis dan "boere teen die miere" tot die son sak en jou ma se stem ’n einde maak aan ’n opwindende middag.
Ons weet dat die Bybel ’n profetiese boek is en dat reën, "lewe" beteken.
Somtyds ervaar ons ernstige geestelik droogte en ons smag na verfrissende geestelike reën. Ons sien soms hoe die wolke saampak, en ons is opgewonde oor die vooruitsig, maar die wind van teleurstelling en selfveroordeling waai die wolke weg en net die dor en vaal landskap bly agter. Uit desperaatheid gryp mens dan na mensgemaakte reën, na dinge wat net tydelik geluk of vervulling inhou.
Jesus s
ê in Joh. 4:14 die volgende: Maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom gee, sal `n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel. (Joh. 4:14)
Ons vergeet dat Jesus in ons is. Ons vergeet dat Hy ons hand vashou en saam met ons die swaarkry en probleme van die lewe wil uitwerk.
Hy s
ê, kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is, Ek gee rus.
Ek glo God se wil vir ons is, om oorvloedige geestelike reën in ons lewens te ervaar. Om soos kinders, met uitbundigheid die landskap te geniet waar daar oorvloed water is. Om hand aan hand, saam met Jesus die lewe aan te pak, en die probleme te oorkom en die oorwinning te smaak.
Sien jy kans om langer alleen in die woestyn te woon, of kies jy `n fontein waarvan die water altyd sal opborrel?
Here
Help my om te onthou dat U in my lewe. Dat my probleme, U probleme is. Dankie dat U my nooit in die woestyn los nie, maar dat U saam met my in die oorlogsveld is en my verkwik met die Lewende water!
Amen!
No comments:
Post a Comment