Thursday, 7 March 2013

Glentana son-sak

Glentana Son-sak

Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jes. 30:21)

Dis warm, die kwik draai net onder die 40 °c.  Ek sleep my voete terwyl ek probeer om lewe in die lyfies om die etenstafel te blaas.  “Kom haal jou mes en vurk, sit regop, kou met ’n toe mond, nie so baie tamatiesous nie, skuif jou glas dieper in,” rammel ek elke aand se rympie af, in die hoop dat die woorde iewers sal vashaak.
Net toe dit lyk asof ons etenstyd gaan oorleef, vlieg sussie se glas water deur die lug en maak ’n bollemakiesie op die vloer.  Bloot uit onvermoë om iets positief of opbouend te sê, gee ek ’n groot tree bo-oor die plas water en stap met my bord macaroni-en-kaas by die voordeur uit.  sommerso oor my skouer sê ek, “dit beter netjies wees as ek terugkom”.
Ek maak myself tuis op die stoeptrappie, balanseer my bord macaroni op my knieë en voel dankbaar vir die effense briesie wat van die see afstoot.  Terwyl ek die gewerskaf in die huis hoor, vang my oog die laaste strale van die son.  Die paar vlieswolkies wat aan die hemel  hang, word gebaai in ’n goue gloed.  Die water glinster asof ’n miljoen diamante daarop dans.  Skakerings van oranje en pienk, verkleur die lig en omtower die strand in ’n sprokie.  ’n fisant wyfie maak lawaaierig haar kleintjies bymekaar en soek skuiling vir die nag.
Terwyl ek kyk hoe die dag plek maak vir die nag, oorval ’n wonderlike rustigheid my.  Sommerso tussen die macaroni deur, dink ek aan hoe God alles gemaak het.  God moes geweet het dat ons lewens iewers buite  beheer sal raak en dat ons dan ’n son sak, of ’n  Suiderkruis of ’n volmaan sal nodig kry om ons te herinner dat Hy bestaan.  Dankie, is al woorde wat ek uitkry  . . .
Ek staan op toe dit te donker raak buite, en te stil binne die huis . . . .  Die borde is afgedra en net hier en daar staan nog ’n verdwaalde mes en vurk rond, die gemors op die vloer, is “ietwat” kleiner en twee rye voetspore sit badkamer se kant toe.  Ek glimlag terwyl ek die mop nader trek en begin opdroog.
Later toe die huis stil raak en mens net die gesuis van die see en die krieke in die tuin hoor, lees ek die volgende aanhaling:  “The best gift we can give ourselfs is, time alone with God”.  Die woorde tref diep en ek besef dat die Here baie duidelik met my praat vandag.
Vir die tweede keer in een aand is al woord wat ek kan uitkry, dankie . . . en diep in my hart herinner God my dat Hy ’n jaloerse God is.  Dat water op die vloer en badtyd en kosblikke nie voor ons tyd met Hom mag kom nie.  Dat net Hy die bron van lewe is, die bron van energie en geduld en bo alles liefde!
Here

Vanaand sê ek dankie vir macaroni op my stoep se trappie.  Dankie, vir ʼn hemelse son sak!  Dankie, vir my kosbare, kinders en dankie vir ’n Pappa wat in liefde sê : Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jes. 30:21)

Amen!

No comments:

Post a Comment