Beskerm my soos die appel van U oog, steek my weg in die skaduwee van U vleuels (Ps 17:8)
Dis skuins na middernag. Ons is gedaan, en daar is nog ’n paar ure se ry wat voorlê. Ons stop in Beaufort-Wes. Met stywe bene, gaan soek ek koffie terwyl my man brandstof ingooi. Ek loer by die agterste sitplek in, waar die kinders rustig slaap. Die dorpie is doodstil, behalwe vir twee katte wat amok maak by die vullisdrom.
In die flou ligte van die vulstasie, loer ek vir die honderdste keer op die kaart, asof dit die pad korter gaan maak . . .
Binne minute sing die bakkie se bande weer op die karoo pad. Die sterre hang in blink trosse aan die hemel en ek skuif die kokende koffie eenkant toe opsoek na ʼn radio stasie.
"Sjoe, kyk net daar," sê my man. Op die randjie van die pikswart horison is ʼn goudgeel maan besig om sy kop uit te steek. Dis so asemrowende prentjie, dat ek nie eers ʼn oog knip toe die bakkie langs die N12 tot stilstand kom nie.
Asof gehipnotiseer deur die maanlig, klim ons uit.
Dis doodstil . . .
Dis so stil dat mens jou eie hart hoor klop. Ons slaan die agterste klap van die bakkie oop en gaan sit in verwondering en kyk na die prentjie wat voor ons afspeel. Ons is alleen in die wêreld is. Die koel karoo luggie stoot saggies, die lug ruik na grond en soet kruie. Stoom staan op ons, nog warm koffie en iewers maak ʼn nagdiertjie geluide. Soos die maan al groter en vetter en geler word, word die landskap rondom ons sigbaar. Die bome gooi skaduwees en die klippe blink liggies in die maanlig.
Die oomblik is so heilig, en ek wonder of daar nog mense op aarde is wat kyk hoe skenk die heelal geboorte.
Onwillig om afskeid te neem, trek ek die karoo-lug diep in my longe, en bêre die prentjie naby my hart . . .
Ek het eendag gehoor hoe iemand vertel dat hy God makliker ervaar in die dun tye van die dag. Daarmee het hy bedoel, vroeg in die oggend, net voor die eerste strale van die son en die goue uur net voor die son sak. Daardie aand in die karoo, was een van daardie dun tye. Tevredenheid het soos ’n kombers om ons gevou en vir een oomblik, was alles in die heelal perfek.
Dis baie keer op lang, uitmergelende paaie, waar God ons inwag met ’n stukkie skoonheid uit Sy hand. God het immers die skepping vir ons gemaak, om daaroor te heers en die skoonheid daarvan te geniet. Ons is veronderstel om God in die laaste strale van die son te sien of in die ryp op die gras of die volmaan in die Karoo. Dis God se manier om ons daaraan te herinner dat Hy, God is.
Baie dae beplan ons roetes, en ons kyk op die kaart en ons probeer koers hou, maar dis tevergeefs.
Dis sulke dae, wat ek die nag in die Karoo uit die bêre plekkie naby my hart haal.
Dis dan wanneer ek besef dat ons ʼn God dien wat nie volgens menslike tyd en roetes en kaarte werk nie.
Ons dien ʼn God wat langs ons wil stap.
’n Liefdevolle Vader wat wil hê ons moet Sy stem goed genoeg ken om te luister as Hy die roete verander.
Ons dien ʼn God wat belowe, wanneer jy die regte pad verlaat, sal jy ’n stem agter jou hoor sê, dis die pad, loop hierlangs (Jes. 30:21)
Mag ons God se stem leer ken! Mag ons baie prentjies bymekaarmaak wat ons naby ons harte kan bêre en mag ons nooit ooit die koers verlaat nie, maar altyd in God se skadu bly . . .
Amen!