Wednesday, 15 May 2013

Disprin mense

Donderdae middae is uitmergelend . . .
Van die oomblik wat die skoolklok lui jaag ons rond van die een aktiwiteit na die volgende. Dis net voor vyf toe ons voor die huis stilhou. Terwyl ek die voordeur sleutel in die slot druk, piep my foon.  Dis tannie Anita wat vra of ek tuis is vir ’n vinnige koffie. Ons twee het al ’n week terug ’n afspraak gehad, maar elke keer val iets voor.
Ek stoot die deur oop en my moed sak in my skoene, die huis staan op sy kop.  Ek SMS met een vinger terwyl ek kombuis toe stap om die pakkies neer te sit.
Die gewone middag-na-skool pandemonium breek los in die huis.  Sussie pak haar huiswerk uit en Hanna Montana blêr vanuit haar kamer. Boetie oefen sy rugby pass in die gang en ek koes vir ’n bal in die verbygaan.  Terwyl ek orde probeer skep op die eetkamertafel, hoor die hond iets in die straat.  Hy spring met ’n gejuig op en hol amper my voete onder my uit.
Ek hoor ’n klop aan die deur en in die middel van die chaos loer tannie Anita se altyd vriendelike gesiggie om die hoek. Sy gee my ’n stywe druk en maak haarself tuis in my wêreld.
So tussen die kinders en die  huiswerk deur kuier ons te lekker.  Ons drink ’n eerste en later ’n  tweede beker koffie, terwyl ek my verlustig in brokkies van haar lewensverhaal.
Terwyl ek begin aartappels skil vir aandete gesels ons oor haar oorsese toer wat sy so pas agter die rug het.  Sy vertel dat haar man haar beste vriend was en al het sy vreeslik swaargekry na sy dood, het sy besluit om nie op te hou lewe nie.
Tannie Anita sê die volgende woorde:  My kind, ’n  mens moet nooit toelaat dat iemand anders die sleutel van jou geluk in sy broeksak dra nie. 
Haar woorde raak my diep . . .
Ek het eenkeer ’n stukkie gelees wat handel oor “disprin-mense”. 
’n Disprin mens is iemand wat sy identiteit verloor in mense en dinge rondom hom. Hy los op in sy omstandighede en is soos ’n golf wat in die oseaan heen-en-weer- geslinger word.
Disprin mense lewe ook in ’n disprin wêreld waar die sleutel van  geluk in die broeksak van ’n hartelose en koue wêreld is.  ’n Wêreld wat beheer word deur dooie dinge soos tyd, geld en mag en ek wonder wat oor is van God se opdrag in Genesis 2 om te heers oor die skepping.
Ek kyk na Tannie Anita wat te midde van die chaos van ’n skool middag, rustig om my tafel kuier.  Ek hoor die woorde van Gees en Lewe wat uit haar mond kom. Ek sien haar diep geloof ten spyte van die letsels wat die lewe op die mure van haar hart gelos het, en ek besef die sleutel van haar geluk is op ’n veilige plek. 
Dis op ’n  plek vol vrede, ’n plek waar dit nie deur mot en roes, skeiding en  benoudheid, lewe of dood gesteel kan word nie.  Dis in die hand van ’n liefdevolle, wonderlike betrokke Pappa.
As iets of iemand die sleutel van jou geluk vashou, neem dit vandag terug en bewaar dit met jou hele lewe, sodat jy soos tannie Anita van Glentana, met blink oë en ’n  lewe vol reise en  avonture, brokkies daarvan kan uitdeel, en ’n verskil kan maak wat nie deur  mot of roes, skeiding of  benoudheid, lewe of dood gesteel kan word nie.

Here
Dankie, dat die sleutels van my geluk veilig is by U.  Dankie, vir wonderlik wyse mense in ons lewe.  Here leer my om my identiteit in U te vind en nie soos ’n disprin op te los in die wêreld en sy dinge nie. Dankie, vir U liefde!
Amen


Wenners



"Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”
Galasiërs 2:19 en 20

Dis Saterdagaand half sewe.  “Die blou bul eet nie van die vloer af nie”  blêr oor die kombi se radio en ’n groep manne braai wors op ’n gas braai. So vêr as die oog kan sien staan ’n see van rugby-ondersteuners wat gereedmaak om die wedstryd in die stadion te gaan kyk.
Dis reeds sterk skemer en die groot spreiligte maak patrone teen die wolke wat nog laag hang na die reën. Vanaand speel rooi teen blou en die lug is gelaai met opwinding.  Harde musiek doef-doef van die stadion se kant af terwyl mense soos beeste in ’n drukgang deur die hekke beweeg.
’n Jong pappa vleg deur die mense, ’n opgewonde, blou geverfde,  kleutertjie sit op sy skouers. ’n Grys omie met ’n weglêsnor en  sy span se wapen op sy kepsie stap gefokus deur die skare, agterna kom sy  vroutjie aan geskarrel. ’n Luidrugtige groep studente in oorpakke staan gereed vir ’n foto en ’n straatverkoper doen ’n dansie terwyl hy ’n vlag smous.
Binne minute skuif ons by ons sitplekke in, en maak gereed vir die wedstryd.  Die lug is gelaai met elektrisiteit en die skare brul toe die fluitjie blaas en die bal deur die lug trek.  Vir die volgende tagtig minute verloor die ondersteuners hulself in die wedstryd. Duisende mense spring soos een man op, skreeu  bevele, swaai arms deur die lug en wens mekaar geluk as hulle span punte aanteken.
Die eindfluitjie blaas en twee stewige, uitgegroeide manne, gryp mekaar om die lyf en spring in die rondte van blydskap oor hulle gewen het. . .
Die Koninkryk van God en ’n rugby-ondersteuner het baie dinge in gemeen.
 ’n Rugby-ondersteuner kies ’n span wat hy voel goed genoeg is om hom te verteenwoordig.  Hy dra die span se kenmerkende klere of kentekens, volg die span se bewegings, gesels daaroor met ander rugby liefhebbers en wanneer sy span wen, dat vier hy fees asof hy self op die veld was.
Die dag wat jy vir Jesus gekies het, het Jesus jou verteenwoordiger geword. Sonder om in ’n stal in Betlehem gebore te word, of houtwerk in Nasaret te doen of aan die kruis te sterf, het jy saam met Jesus uit die dood opgestaan en  die oorwinning behaal
Jy lewe nie meer nie maar Jesus lewe in jou, al was jy nie fisies self daar nie.(Gal 2:19 en 20)
Dis vir ons so maklik om die oorwinning van ons sport span te aanvaar, maar ons sukkel om te aanvaar wat  Jesus vir ons gedoen het.  Sonder om aan ’n bal te raak, noem ons onsself die wenners, maar ons dink omdat ons nie self die prys betaal het vir ons sonde nie, tel dit nie.
As iemand vandag kom en hy koop vir jou ’n rugby kaartjie, dan is die kaartjie betaal.  Wie die kaartjie betaal het, maak geen verskil nie, of die kaartjie reeds betaal is, maak die verskil.
Jesus het als reeds gedoen, maar ons kort geloof om dit te verstaan en te aanvaar: In ’n rugbywedstryd word die telling op die telling bord aangedui, geloof help ons om ’n oog te hou op die telling wat Jesus aangeteken het.
Daar is ’n woord wat lees “Net hulle wat geloof het, kan gehoorsaam wees en net die gehoorsame het geloof.”

Ons het geloof nodig om te weet dat dit waar is wat die Bybel sê oor ons opstanding saam met Christus en om uit te leef wat ons bely.

God kyk na jou en hy sien dat jy waardig is omdat Jesus vir jou betaal het. Is dit nie fantasties nie?

Here
Dankie, dat ons op die paviljoen van die lewe kan sit as oorwinnaars.  Dankie, dat ons U kon kies, al het U ons reeds lankal gekies. Dankie, dat U die volle prys betaal het en dat U in U volheid in ons lewe.  Dis so groot dat ons dit nie werklik kan verstaan nie, ons bid dat U dit in ons harte sal openbaar sodat ons in oorwinning kan lewe!
Amen


Klippies

En dit is die lewe:  dat hulle U ken, die enigste ware God en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. (Joh. 17:3)
Ons stap twee rye spore af strand toe.
Grys miswolke hang laag oor die hawe.   Dis koel vir n someroggend en ek vou my hand om die warm koppie Wimpy koffie.
Ons is n halfuur vroeg vir ons afspraak in Mosselbaai en daar is geen beter plek om die tyd om te kry nie.
Dit lyk of die hawe nog slaap.  Bont bootjies dobber in die baai en gooi lang gekleurde strepe oor die water. Mosselbaai se huisies staan soos hare op n  hond se rug, al teen die randjie uit.  Die see is rustig en sus saggies terwyl die golwe lui op die strand uitspoel
Stadig oor die sand kom n ou vroutjie aan geskuifel.  Sy het haar swemklere aan.  In haar hand dra sy n  handdoek en n bont swem kappie wat beslis nie uit hierdie eeu dateer nie.  Sy sit haar goedjies n paar treë van ons af neer, trek die swem kappie behendig oor haar yl grys haartjies en raak haar tone n paar keer.  
Wat n pragtige oggend, groet sy met n glimlag.”  Sy lyk soos iets uit n antieke winkel, met haar gekreukelde vel en die bont gedoente op haar kop.
“Gaan tannie swem in hierdie koue weer,” vra ek?
Ja, my kind, ek swem elke mooi someroggend, antwoord sy vriendelik.  Hoe kouer dit is, hoe sekerder is ek, ek lewe nog.  Sy buk af, en tel iets van die strand af op, skuifel nog bietjie nader, en kyk ons vierkantig in die oë.  
Die Bybel sê ons lewe maar sewentig jaar en as ons baie sterk is tagtig. Sy vou haar handjie, wat die tekens van ouderdom dra stadig oop. 
In haar palm, lê daar sewe klippies.  Sy skud die klippies deurmekaar en sê, dis al wat ons kry.  Sonder seremonie gooi sy al sewe klippies oor haar skouer, en glimlag breed.  My klippies is klaar, elke dag, vir ʼn oumens soos ek is ʼn geskenk. . . .
Sy skuifel aan en groet oor haar skouer voordat sy die water instap.  Sprakeloos sit ons op die strand, terwyl die ou vroutjie se woorde in die oggendlug lug hang.
Op pad terug motor toe, tel ek sewe klippies op, ek gooi die paar dekades wat ek al gelewe het oor my skoue en kyk na dit waar oorbly in my hand . . .  
Heeldag maal die ontmoeting met die verkreukelde vroutjie deur my gedagtes.
Moeg gedink oor die klippies, lees ek die volgende woord oor die lewe in Joh. 17:2-3: 
U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee.  En dit is die lewe:  dat hulle U ken, die enigste ware God en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.
Wat ons ook al doen en hoe baie of min ons ook al oor die lewe redeneer, is daar niks konstant behalwe dat ons God ken nie. Die illusie van drie, of vyf of een klippie bestaan nie.  Al wat ons werklik het, is die minuut waarin ons leef en die vaste sekerheid van n eindbestemming.  n Ewigheid in die teenwoordigheid van God, ons liefdevolle Pappa.
Here
Dankie, vir elke dag! 
Leer ons hoe om te lewe, hoe om met sekerheid en afwagting en entoesiasme die klippies in ons hand tot eer van U koninkryk aan te wend.
Amen